News

Geliefde fisioterapeut positief tot aan die einde

Geliefde fisioterapeut positief tot aan die einde

   

Daar was nie ’n dag wat hy nie positief was oor die lewe nie. Tot aan die einde van die wedloop wat hy op Donderdag 24 Junie voltooi het. Parys en sy mense, maar ook sy pasiënte en sy kollegas sal Gerhard Streicher onthou as ’n man met ’n groot hart, ’n sagte geaardheid en oneindige groot liefde vir mense, sy familie vriende. Maar bowenal as fisioterapeut wat deur die Skepper geseën is met soveel kennis, begrip, deernis en aanvoeling waarmee hy met sy pasiënte gewerk het. Sy beroep was vir hom ’n absolute passie en iets waarvoor hy geleef het. Gerhard is op 6 Oktober 1966 in Bendura, Zimbabwe gebore.

Die gesin verhuis later na Suid-Afrika en voltooi hy sy skoolloopbaan in Parys, waar beide ouers, Frank en Herna Streicher, onderwysers was. Na skool het Gerhard aanvanklik eers sy aptekerskursus by die Noordwes Universiteit se Potchefstroom-kampus begin en is aan die einde van sy derde jaar oor na Tukkies om fisioterapie te studeer. In Desember 1993 open hy ’n praktyk in Parys, en verhuis in 1995 na Frankfort waar hy daar ’n praktyk bedryf, asook ’n praktyk op Heilbron wat hy gekoop het.

Op 25 Sept 1998 trou hy met Elise en vestig die egpaar hulle in Frankfort. Ses jaar later is hulle na Faerie Glen in Pretoria, waar hy ’n aanbod van die DBC Finlandse konsep aanvaar, en sy opleiding in Finland by hul hoofkantoor doen. Tot voor sy afsterwe was hy steeds werksaam by die tak in Sasolburg, asook na-ure by sy praktyk in Parys.

“Ons gaan hom baie mis, die grapgat Oupa waarvoor die tien kleinkinders so lief was. Rus sag aan die voete van Jesus.”  

 

Related Articles

Back to top button