NewsNews

‘Nooit té laat vir ’n nuwe doelwit’

‘Nooit té laat vir ’n nuwe doelwit’

  As jy hierdie ouma se selfoon profielboodskap lees, sal jy verstaan waarom sy só passievol is oor parkrun. Waarom sy so oefen en gesond leef…en elke dag ten volle wil leef. “You are never too old to set another goal or dream a new dream!” Monica Muller, parkrun geleentheidsdirekteur, was ‘n paar maande gelede al hard aan die werk saam met ‘n paar ander getroue parkrunners om ‘n nuwe roete uit te werk/te beplan omdat die Mimosa Tuine nie meer beskikbaar is as die wegspring en eindpunt van dié gewilde Parys parkrun-roete nie.

Sy het na verskillende opsies in Parys gekyk, maar wou steeds die roete langs die Vaalrivier hê, want “wat is Parys parkrun sonder die rivier,” meen sy. Na vele kere se afmeet/ aftree en dan weer afmeet om seker te maak dit is die verpligte 5km, kon sy haar voorlegging na Bruce Fordyce, direkteur van parkrun Suid-Afrika, deurstuur vir sy goedkeuring. Daar word nog angstig gewag op terugvoer aangesien die voorlegging ook deurgestuur moet word na die parkrun hoofkantoor in Engeland wat die laaste sê het. Dan word daar ook gewag vir daardie parkrun groenlig om alle parkruns weer oop te kry. Monica is aangestel as die nuwe geleentheidsdirekteur vir Parys parkrun, nadat Lisa de Speville, die vorige geleentheidsdirekteur, Parys verlaat het om haar in Knysna te vestig. Weens die Covid-19 pandemie kon Monica egter nog nie amptelik haar rol as geleentheidsdirekteur vervul nie, maar is sy soos ‘n wafferse ‘undercover cop’ gedurig in kontak, en op hoogte van alle parkrun verwikkelinge.

Monica het ses jaar gelede na Parys verhuis, en het in Januarie 2016 by parkrun geregistreer. Nooit het sy kon dink dat dit haar lewe so sou verander nie. Sy het reeds 144 parkruns voltooi, waarvan 20 verskillende parkruns is as ‘n toeris. Sy het ook haar vuurdoop as wedloopdirekteur gehad ter voorbereiding vir haar rol as geleentheidsdirekteur. As sy onthou dan teken sy ook haar (not) parkruns aan wat sy Saterdae doen, gesels Monica. Die parkrun het haar baie meer gesondheidsbewus gemaak en haar lewe verander van luilekker Saterdagoggende, na aktiewe oggende. Saam met haar man, haar mede- parkrunner en grootste ondersteuner, oefen hulle gereeld om fiks te bly en hulle tyd te verbeter. Gedurende streng inperking het hulle beurte gemaak en in hul huis op die trapmeul geoefen. Saam met die gereelde oefening het hul ook meer gesond begin eet. Monica werk voltyds in Vereeniging en vat die pendelure ook ‘n groot deel van haar tyd in ‘n dag.

Tog maak sy tyd vir oefen. Monica is ook baie aktief op ander gebiede en ‘n buitelugmens. Sy ry graag bergfiets, is ‘n ervare hengelaar en soek altyd ‘n geleentheid om te gaan kamp – selfs in die winter! Sy het onlangs saam met haar dogter, Esmeralda, die 60km African Expedition wat hardloop, bergfietsry en kajak roei insluit, op Koedoeslaagte aangepak, maar ongelukkig het sy geval en ‘n beentjie in haar voet gebreek. Gevolglik moes sy noodgedwonge handdoek ingooi, hoewel sy al hinkepink wou voortgaan! Monica vertel sy het op skool 1 200m gedoen, maar was lui vir oefen en het eintlik eers met parkrun besef sy geniet die draf en oefen, en het só al ‘n 21km kafgedraf. Sy kan ook spog dat sy aan die Greatest Train Race deelgeneem het waar jy onder andere 15km tussen twee koolmyne hardloop teen ‘n stroomtrein langs ‘n treinspoor, en ook op die pad. Monica se raad is om nooit moed op te gee nie, en aan te hou oefen. Sy raai nuwe en voornemende stappers en drawwers aan om vooraf hul roete-afstand te meet deur byvoorbeeld die afstand eers met hul motor te ry sodat hulle die aantal kilometers kan meet. Hoe meer jy oefen, hoe meer verbeter jou uithouvermoë en deursettingsvermoë namate jy fikser word.

Sommer gou sal jy self ook beter en gesonder begin voel.

Sy het reeds twee keer Covid gehad en ten volle herstel en skryf dit toe aan haar aktiewe leefstyl. Alhoewel al die parkruns nog nie oopgestel is nie, mag jy (not) parkruns doen, en nooi Monica almal uit om Saterdagoggende om 08:00 by Egweni op die gras langs die rivier bymekaar te kom en die nuwe roete te gaan toets/te probeer. Daar is ongelukkig geen amptelike tydhouers nie, maar al is jy heel laaste sal iemand steeds vir jou wag tot jy klaar is. “Niemand gaan op hul eentjie daar aankom nie.” Dit is gratis om deel te neem – jy moet net registreer. As jy dink dat daar vandag weinig is wat gratis is en boonop gesond is vir jou, is dit die moeite werd om te probeer.

As jy meer oor parkrun wil weet, skakel Monica by 064 619 3348.  

Related Articles

Back to top button