News

Naturiste-oord op kleinhoewe een van Vaal se bes bewaarde geheime

Naturiste-oord op kleinhoewe een van Vaal se bes bewaarde geheime

‘n Rustige oord op ‘n kleinhoewe buite Vanderbijlpark waar nudiste naweke kaal om ‘n swembad en boma-vuur kan verkeer en deel kan voel van die natuur, is nou al vir die afgelope vier jaar een van die Vaaldriehoek se bes bewaarde geheime.

*Die storie het die eerste keer in Vaalweekblad van 23 Junie verskyn.

VANDERBIJLPARK. – Die Bird of Paradise-oord vir nudiste/naturiste bied onder meer ook jacuzzi-geriewe, prettige aktiwiteite en kaal bootritte op die Vaalrivier.

Hulle is ook bekend vir die heerlike kos wat hulle aan gaste bedien.

Die oord is ook onder naturiste bekend vir hul heerlike kos. Foto: Verskaf

Die eienaars van die unieke oord het vandeesweek die eerste keer openhartig met Vaalweekblad gesels, aangesien hulle vroeër bang was dat die media-aandag ongewenste elemente na die oord sou lok en die rustigheid van hul tuin van Eden sou versteur.

Die oord word deur Dave Neeb en sy maat Deon Botha bedryf en bied, anders as sommige oorde, ook gay-vriendelike verblyf.

Dave en Deon werk hoofsaaklik as tuinskeppers, maar bedryf ook die oord, wat twee naweke per maand gaste akkommodeer.

Dave Neeb en sy maat Deon Botha wat die oord bedryf is tuinskeppers. Foto: Verskaf

Hul tuinskeppingsvernuf is duidelik sigbaar in die kunstige wyse waarop die tuin van die oord uitgelê is.

Die naam van die oord – Bird of Paradise – is die ander naam vir die Strelitzia.

Die blom pronk ook op die nudisteoord se logo.

Daar is plek vir 40 gaste, wat chalets, karavaanstaanplekke en kamers insluit.

Die kamers is na voëlspesies vernoem wat inheems aan die omgewing is.

Die oord is na die Strelitzia vernoem. Foto: Verskaf

Volgens Dave is die oord ‘n gewilde uithangplek vir nudiste/naturiste en lok hulle gereeld gaste van regoor die land, insluitend Bloemfontein, Pretoria, Johannesburg en die Oos-Rand.

Van die gaste wat al die oord besoek het sluit prokureurs, dokters, skrywers en selfs predikante in.

Dit is blykbaar veral gewild onder ouer mense, dikwels mense ouer as 40.

Dave vertel dat hulle selfs ‘n troue vir nudiste aangebied het waartydens almal, van die gaste, bruid en bruidegom, tot die dominee poedelnaak was.

Volgens Deon gaan naturisme daaroor om kaal te verkeer en deel te voel van die natuur.

Die stoele waar kaal mense twee naweke per maand uitstpan. Foto: Verskaf

Volgens Dave laat naturiste hulle nie deur die winterkoue afskrik nie en is die oord selfs gedurende die winter ‘n gewilde bestemming.

Die gaste sal in die winter tipies bedags kaal in die son lê en as dit koeler raak in die aand hul japonne aantrek,” verduidelik hy.

Saans word daar kaal om die boma-vuur of kaggel verkeer.

Elke gas sit op ‘n handdoek vir higiëniese doeleindes.

Saans word daar om die boma vuur of kaggel kaal saam gekuier. Foto: Verskaf

Die gebruik van kameras, selfone en video-kameras is streng verbode by die oord om gaste se privaatheid te beskerm, hoewel daar wel geslotekring TV-kameras op die perseel is vir veiligheidsdoeleindes.

Geen besoekers onder die ouderdom van 18 word by die oord toegelaat nie en daar geld streng reëls wat nagekom moet word.

Gaste moet van hul klere ontslae raak (tensy die weer dit nie toelaat nie) en ongewenste seksuele toenadering word nie geduld nie.

Volgens Dave moet gaste lede van die Gauteng Naturiste Vereniging (GNA) wees.

Die oord is selfs besig in die wintertyd. Foto: Verskaf

Vir meer inligting oor die oord, besoek die Bird of Paradise-facebookblad of hul webtuiste by https://www.birdofparadise.co.za.

Naturiste-oord op kleinhoewe een van Vaal se bes bewaarde geheime

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button