News

Munisipale beurtkrag: Hof moet sê

Munisipale beurtkrag: Hof moet sê

   

Daar behoort vanaf Maandag, 28 Junie meer duidelikheid te wees oor die kwessie of munisipale beurtkrag in Parys toegepas kan word aldan nie, ná ’n vroeëre tussentydse bevel van regter Anthony Millar wat Eskom en die Ngwathe munisipaliteit verbied het om verdere munisipale beurtkrag toe te pas.

Die Lekwa Belastingbetalersvereniging se dringende aansoek oor die verontagsaming van hierdie tussentydse bevel van regter Millar is Donderdag, 17 Junie voor regter Davis geplaas en aangehoor. Die aansoek is eers finaal gelas op die middag van 16 Junie met die applikante wat deurlopend daarop gereken het dat Eskom en die munisipaliteit as verantwoordelike staatsorgane sou insien dat hul dispute en dispuutbeslegtingsmetodes tot nadeel van die inwoners en omgewing strek. Dit nadat Parys voorverlede week tydens nasionale Eskom-beurtkrag ook die swaard oor die kop gehad het vir munisipale beurtkrag, weens oorskryding van Eskom se toegelate maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) aan dié munisipaliteit. Hoewel daar danksy kragbesparing van verbruikers wat telkens gewaarsku is wanneer verbruikvlakke té hoog was, meerendeels daarin geslaag kon word om munisipale beurtkrag af te weer, is dit wel by geleentheid toegepas, juis in ‘n tyd toe ysige wintertemperature landwyd gevoel is.

Die Vaal River Development Association het toe namens die Parys Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskapsaksie, op 10 Junie ‘n brief aan Ngwathe gerig waarin gewys is op die verontagsaming van die vroeëre tussentydse bevel. Die kantoor van die Ngwathe munisipale bestuurder, mnr. Bruce Kannemeyer, het in antwoord gesê dat Eskom die munisipaliteit in kennis stel as daar oorskryding van die NMD-perk is, waarop munisipale beurtkrag dan toegepas moet word. Regter Davis het met verlede week se hofsitting vrae gehad oor óf die uitwerking van die voorlopige of tussentydse bevel wat destyds deur waarnemende regter Millar gemaak is, nie die effek van ‘n finale bevel gehad het nie, en die bepalings van die bevel om die rede opgehef moet word in die lig van Eskom se appél teen die vroeëre bevel nie. Die appélsaak is steeds nie aangehoor nie. Adv. Danie Wijnbeek het voor regter Davis namens die applikante aangevoer dat Eskom se enigste risiko finansieel is, terwyl ‘n gemeenskap wat betaal aan die plaaslike owerheid, swaar geraak word deur munisipale beurtkrag met inwoners in veral aftreeoorde wie se lewens in gevaar gestel word wanneer lewensnoodsaaklike toerusting buite werking is weens kragonderbrekings.

 

Hy het ook gewys op die besoedelings- en gesondheidsgevaar tydens knaende beurtkrag wanneer rioolpompe en waterpompe nie werk nie, en rou riool in die Vaalrivier beland. Wanneer pompe nie werk nie, veroorsaak dit ook watertekorte in die dorp, en was kragonderbrekings alreeds die rede waarom fabrieke en ondernemings uit gebiede onttrek. Regter Davis het sy uitspraak voorbehou en aangedui dat hy binne 10 dae uitspraak sal lewer. Parys se kragstryd Die gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) vir Parys is tien jaar laas aangepas, en hoewel Ngwathe aansoek gedoen het om verhoging van die NMD, het Eskom tot nou toe aangedui dat die verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer.

Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy agterstallige skuld aan die kragreus moet betaal, en daar in die verlede deur hofbeslissings verhoed is dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie. Totdat oorlading by die beheerkamer van die Eskom-substasie in Parys groot skade veroorsaak het, en Eskom voet neergesit het. Eskom het na die vroeëre interim hofbevel van regter Millar wel die tweede transformator in die Eskom substasie in Parys herstel wat beteken dat die dorp nou ‘n geïnstalleerde vermoë van 40mVa het. Parys se winter kragverbruik is gemiddeld 24mVA. Dit is egter meer as die ooreengekome 21mVA lewering    

Related Articles

Back to top button