News

Johannes Maree: Jou spore lê diep

Johannes Maree: Jou spore lê diep

     

Vir 81 jaar was Johannes Maree deel van die hartklop van Vredefort. Iemand wie se spore onmiskenbaar deel is van die geskiedenis van dié dorp en sy mense. Wie se nalatenskap sal voortleef in die ongelooflike bydrae wat hy as sakeman, diep gelowige, omgee-mens en geskiedenisskrywer agterlaat. Johannes is op Sondag, 13 Junie oorlede. Die laaste hoofstuk van sy lewensverhaal voltooi. ‘n Lewensverhaal wat in 1939 begin het toe hy gebore is in sy oupa se ‘nagmaal huis’ in Vredefort. ‘n Man wie se paaie hom van ‘n joernalistieke agtergrond tot die begin van ‘n beskeie drukkery in sy ruim buitekamer op die plaas gelei het.

‘n Man wat ‘n unieke biblioteek van etlike duisende boeke en Afrikana oor jare opgebou het. Met sy lang en noue betrokkenheid by die gemeenskap van Vredefort, het die pennevrug oor sy geboortedorp gestalte gekry in 2020 met ‘n ongelooflike bydrae tot die Afrikaanse kultuurgeskiedenis onder die titel, “Toeka se dae in Vredefort”.

Die boek deel met die leser ‘n leeftyd se ervarings en gebeurtenisse in Vredefort.

Laat jou die dorp se ontstaangeskiedenis beleef sedert die Voortrekkers die eerste ploegvoor getrek het en die eerste grashuise gebou het. Tereg skryf prof. Sybrand Strauss in sy voorwoord-opmerking dat enigiemand wat wil weet hoe die lewe op ‘n Afrikaanse plattelandse dorp en distrik min of meer ‘n halfeeu gelede gelyk het, in hierdie boek ‘n waardevolle en onmisbare bron van inligting sal vind. Johannes was bekend vir sy gemaklike skryftrant waarmee hy die hartsverhaal van die mense wat Vredefort help vorm het, kon vertel. So ook sy besondere geskiedenisvertellinge by sovele Geloftefeesdienste.

Maar dit was nie net as geskiedenisskrywer wat hy onthou sal word nie. Die vele skoolboeke wat met PVC klaargemaakte oortreksels uit sy fabriek oorgetrek is, die troukaartjies wat destyds uit sy drukkery gekom het voordat die drukkery aan Frikkie Scheepers verkoop is en voortgesit is onder die naam Chrisset Drukkery, sal altyd herinner aan ‘n man wat met ‘n visie en passie geleef het vir dit waarin hy geglo het. *

Ons innige medelye aan sy vrou, Susan, en die familie.    

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button