NewsNews

Waarom ons nie die perspepsie moet gee dat alles altyd in ‘beheer’ is nie

Waarom ons nie die perspepsie moet gee dat alles altyd in ‘beheer’ is nie

   

 

As ouers, is ons eerste begeerte om net die beste vir ons kinders te gee, sonder dat hul hoegenaamd blootgestel word aan die seer, verwerping en mislukkings in die lewe. Ons alom bewustheid as rolmodel noop ons om altyd die beste voetjie voor te sit. Ons wil die lewe maklik laat lyk en die persepsie gee dat ons altyd in beheer is, en ons die perfekte ouer. In ‘n perfekte wêreld mag jy dalk vra maar wat is fout daarmee? Hoekom kan ek dit dan nie doen nie? Ek moet tog my kind wys hoe sukses lyk, al dan nie?

Kom ons parkeer die vrae en skuif n bietjie nader aan die realiteit. Dis die waarhede van ons daaglikse lewe en die uitdagings waarmee ons elkeen daagliks gekonfronteer word. ‘n Suksesvolle lewe is ‘n kombinasie van hoogtepunte, laagtepunte, uitdagings, en soos die Engelse sal sê, “a walk in the park” oomblikke. Ons aanpassings, reaksies, en groei uit hierdie oomblikke bepaal ons toekoms, ons suksesse en aanvaarding in die samelewing, en hoe goed ons aanpasbaarheid is ten opsigte van uitdagings. Een van my mentors het altyd gesê: “As ons nie ontbloot word aan die terugslae van die lewe, kan ons nie die kruin van sukses geniet nie.” Ons sal nie die waarde kan voel nie, en ons empatie met die mensdom sal vervang word met oordeel en venynigheid. Kom ons bring dit terug na ons kinders en die afhanklikheid waarmee hulle na ons opkyk, en ons besef ons rolmodel-voorbeeld is nie net die sukses oomblikke nie, maar ‘n 24-uur per dag mentorskap hoe om elke situasie te hanteer – of dit positief of negatief is.

Ons verantwoordelikheid strek baie verder as om net ’n perfekte wêreld te skets, sonder foute en terugslae. Kinders is sterk genoeg Kinders het ‘n inherente begeerte om ouers te beïndruk; hulle goedkeuring te kry sowel as die onvoorwaardelike aanvaarding as menswees, en bo alles die liefde wat sê – jy is veilig al gaan dit soms nie soos beplan nie. Daar lê bevryding in die oomblik waar ons vir ons kinders kan erken dat ons ook foute gemaak het. ‘n Geleentheid om te mentor, en bo alles ‘n vertrouens versterking, wat ‘n pad oop kerf wanneer die bordjies verhang word. Ons kinders is ongelooflik aanpasbaar en soveel te meer as ons hulle die geleentheid gun om hulle eie opinies en insette te kan gee. Dit is belangrik dat ons besef ons kinders is sterk genoeg vanaf ‘n baie vroeë ouderdom. Hulle eie morele standaarde en persoonlikhede sal hulle deurdra. Dis ons werk om slegs ‘n leier en ‘n vangnet te wees indien hulle dit benodig. Ons het ‘n verantwoordelikheid om hulle toe te rus met realistiese verwagtinge van verhoudings sowel as interaksie met mense. ‘n Voorbehoud van ‘n ouer wat onfeilbaar is skep die illusie van ‘n bo-natuurlike beeld wat die kind altyd sal bybly. Dus, is dit belangrik dat ons ten alle tye ons kinders omvou met realistiese veiligheid. Elkeen van ons het ‘n inherente dryfkrag om te oorleef en aanvaar te word net soos ons is, en bo alles – om te weet ons is goed genoeg.

Dink net hoe bevredigend dit vir ons is as ons steeds die waardering, liefde en aanvaarding van ons kinders kry nadat hulle ons ware self gesien het. Ons kinders is sterk genoeg. Die verkrummeling van ‘n ikoon Soveel male sien ek kliënte wat in vrees groot geword het en die altyd “nooit goed genoeg” gevoel kan afskud nie, en dat selfaanvaarding ‘n taboe is, juis omdat hulle ouers net hulle suksesse voorgehou het en hulle nie geleer of gewys het dat mislukkings propellers tot groter hoogtes is nie. Hulle bly hulself meet teen die perfekte wêreld van hul ouers en glo vas daar is fout met hulle. Hulle het gefaal, want hulle maak foute. Dis juis hierdie kinders (nou volwassenes) wat ‘n baie beperkte verhouding met hul ouers het en aanpassings- en self-aanvaardings probleme in hulle volwasse lewens ervaar.

Dit is vir my altyd hartseer wanneer die teleurstelling vlak lê en wanneer in detail verduidelik word hoe hulle eie ikoon (ouer) verkrummel het. Wat groter hartseer veroorsaak is wanneer die sogenaamde verkrummeling van die ikoon ‘n oordeel fel oor die kind, juis omdat hulle vanaf ‘n vroeë ouderdom gekondisioneer word om nie hulle foute te bespreek of selfs te wys nie. Moenie dat jou ikoon-status die rede wees dat jou kind glo dat jy onfeilbaar is nie. Ter afsluiting Wat is jou bydrae tot jou kind vandag? Ontwikkel jy ‘n oordeelskind of kweek jy ‘n kind van verdraagsaamheid, waardering en liefde? ‘n Gesin wat leer om mekaar te dra deur suksesse sowel as mislukte keuses en terugslae, staan sterk en geanker in die wete dat ongeag wat gebeur, daar ‘n geleentheid geskep word om te groei, te respekteer en te waardeer. Die dinamika van die gesin word gekoester deur elkeen se sterktes te erken, en elkeen se tekortkominge te ondersteun.

In hierdie gesonde omgewing moedig ons ons kinders aan om ‘n avontuurlustige, ondersoekende en ontdekkings-geaardheid te ontwikkel om vooruitgang te bewerkstellig, dit alles sonder die vrees om verwerp te word sou hulle dalk waag om dalk ‘n fout te begaan. Omvou die band van suksesse en mislukkings wat julle as gesin saambind en deurdra. Dit is jou wenresep vir ‘n onwrikbare gesin. (www.lizettevolkwyn.com)    

Related Articles

Back to top button