News

Laat betaling aan kontrakteur bring padwerke tot stillstand

Laat betaling aan kontrakteur bring padwerke tot stillstand

Met erkenning aan Potchefstroom Herald:

 

Die teerpad van 3 kilometer wanneer jy by die Witrandkruising op die R53 (Ventersdorppad) draai en in Ventersdorp se rigting ry, wen loshande die eerste prys vir swak paaie.

 

Inwoners van Potchefstroom is keelvol vir die swak paaie in die stad. Die teerpad van 3 kilometer wanneer jy by die Witrandkruising op die R53 (Ventersdorppad) draai en in Ventersdorp se rigting ry, wen loshande die eerste prys vir swak paaie. Een van die bane is in die proses om oorgeteer te word en is gesluit. Dit beteken dat voertuie nou in die ander baan moet ry. Voertuie het slegs ‘n baie nou baan om in te ry en met die pad wat vol gate is, is daar nie juis uitdraaiplek wanneer jy ‘n groot gat nader nie.

 

Om alles te kroon, staan padwerke al vir meer as ‘n maand stil. Amanda Jacobs wat 35 kilometer buite Potchefstroom woon, is moedeloos met die gevaarlike pad wat sy elke dag moet ry. “Die swaarvoertuie neem toe met strooptyd en dit raak elke dag gevaarliker. Ons is ‘n hele paar gesinne wat elke dag die pad ry om die kinders skool toe te vat. Ons moet net oë toeknyp en hoop ‘n aankomende vragmotor sal nie vir ‘n groot gat uitswaai en ons tref nie. “Voertuie met klein bande moet skerp uitswaai omdat die gate so diep is,” sê Amanda.

Padwerke aan die R53 net buite Potchefstroom het tot stilstand gekom nadat die kontrakteur na 10 weke nog geen geld ontvang het nie.

Die Herald het vasgestel dat dit die Noordwes Provinsie is wat vir die instandhouding van die pad verantwoordelik is en nie die J.B. Marks munisipaliteit nie. Die woordvoerder van provinsiale paaie, Mfoloe Matsube, sê die rede vir die padwerke wat tot stilstand gekom het, is die kontrakteur wat alles tot ‘n halt geroep het omdat hy na tien weke nog nie sy betaling  ontvang het nie. Matsube sê verder dat die betaling onlangs geskied het en dat padwerke binnekort weer sal voortgaan.

https://potchefstroomherald.co.za/88934/laat-betaling-aan-kontrakteur-bring-padwerke-tot-stillstand/
 
 
 
 
 
 
 
 

Related Articles

Back to top button