NewsNews

Besparing: Nuwe idees vir Ngwathe

Besparing: Nuwe idees vir Ngwathe

   

Terwyl beurtkrag vir Suid-Afrikaners verlede week weer ‘n groot kopseer was, is dit byna ondenkbaar dat Parys voordat Eskom die dorp sedert 1945 van krag begin voorsien het, sy eie krag danksy ‘n hidro-elektriese kragstasie opgewek het. Dié kragstasie is egter oor die jare gevandaliseer. DA-raadslede vra al lank dat die bestaande kragstasie aan die bopunt van Oranjestraat weer in bedryf moet kom.

Volgens DA-raadslid, Arnold Schoonwinkel, is Parys se rioolaanleg ook ‘n kwarteeu gelede herontwerp en toegerus om elektrisiteit uit rioolgas op te wek, hoewel meeste van die toerusting nou verweer of gesteel is. Hierdie is maar van die voorstelle wat al in die verlede gemaak is om kostes vir Ngwathe te bespaar. Nou is sakegroepe en inwoners ook gevra vir idees hoe Ngwathe geld kan bespaar en sy bates meer produktief kan aanwend. Dit volg ná ‘n eenparige besluit onlangs deur die stadsraad om vermorsing en korrupsie hok te slaan, en die munisipaliteit se talle bates meer produktief aan te wend (Gazette, 10 Junie). Die raad se finansiële taakspan moet hierdie voorstelle ondersoek. Volgens Schoonwinkel is planne ook nodig oor hoe Ngwathe inkomste kan verdien uit sy bates, sommige onbenut, soos die Mimosa-tuine, Heilbron se ontspanningsoord en verhuurbare munisipale geboue en persele.

Rdl. Carina Serfontein, DA-koukusleier in Ngwathe, sê daar is al idees van ‘n tiental inwoners en groepe in Parys, Tumahole en Heilbron ontvang. Dit sluit in die herlewing van die munisipale groentetuin in Vredefort, asook Parys se vorige komposaanleg, en die herstel van ligskakelaars sodat straatligte nie meer bedags brand nie.

“Mens sien ons gemeenskappe is vol ywerige en talentvolle individue en groepe wat ons dorpe wil uitbou en laat vooruitgaan,” sê sy.    

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button