NewsNews

Wenke vir wanneer jy gaan vir vaksinering

Wenke om te onthou

Onthou asseblief die volgende as jy 60 jaar en ouer is en vaksinering wil ontvang  

Neem jou ID dokument en mediese fonds kaart saam as jy ‘n mediese fonds sou hê.

Inenting is gratis en vrywillig

As jy nie vooraf kon registreer nie, sal personeel jou help om te kan registreer. As jy wel geregistreer het en ook nog nie ‘n sms ontvang het nie, is jy ook welkom om te gaan. Jy sal gehelp word.

Onthou jou masker en neem sommer jou eie pen en saniteermiddel ook saam

Omdat mense al vroeg-vroeg begin tou staan is dit raadsaam om vroeg te gaan.

Neem sommer ‘n kleinerige kombersie en ‘n flessie koffie saam teen die koue.  ‘n Bietjie toiletpapier in jou sak kan ook handig wees. Daar is baie mense wat die badkamers moet gebruik en dit kan ‘n lang dag vir jou word.

Baie bejaardes is onseker oor hul selfoonnommer en adres wat vir jou gevra sal word wanneer jou besonderhede nagegaan word. Skryf dit neer dan het jy dit byderhand.

Maak sommer ook ‘n lysie van jou medikasie wat jy tans gebruik en waarvoor dit is. Dit gebeur dikwels dat ‘n mens nie op die naam van die medikasie kan kom wanneer jy daarvoor gevra word nie. Dit is belangrik dat jy die regte inligting vir die gesondheidswerkers sal gee.

Onthou dat gesondheidswerkers lang ure werk, self ook gesinne het en voor baie uitdagings te staan kom. Daar mag haakplekke wees want daar is baie wat gehelp moet word. Baie reëls om te gehoorsaam. Wees asseblief geduldig en hê begrip sou daar oponthoude wees.

As jy sien dat daar mense is wat baie swaar loop of baie bejaard is, wees bedagsaam en gee dalk vir hulle ‘n kans om voor jou in die ry in te val. Dit mag dalk vir iemand baie moeiliker wees om so lank te sit in ‘n ry as wat dit vir jou is, al was jy eerste daar.

Onthou dat jou bloeddruk moet reg wees voordat jy die vaksinering kan kry. Maak seker jy gebruik jou bloeddrukmedikasie soos wat jou geneesheer dit vir jou voorgeskryf het.

Sosiale afstand is almal se verantwoordelikheid – gesondheidswerkers moet toesien dat die protokol gehandhaaf word, maar deur saam te werk, en self ook seker te maak jy hou jou afstand, dra jou masker te alle tye in die openbaar en saniteer gereeld, maak jy hul las ligter. Hulle kan nie hul werk doen en nog toesien dat mense protokol deurentyd gehoorsaam nie.

Related Articles

Back to top button