NewsNews

Oor voëlgidse en verkykers

Oor voëlgidse en verkykers

   

In die Junie-uitgawe van sy voëlnuusbrief “Kubervlerke”, het Billy Attard van Polokwane die volgende te sê gehad oor watter voëlgids en verkyker jy nodig het om voëls te kyk.

Om voëlkyk te beoefen hoef mens basies slegs ‘n verkyker en ‘n voëlgids te hê. Eers later kan kykers hul apparatuur met klankopnemers aanvul of toepassings aflaai om na voëlsang te luister, of ‘n teleskoop aanskaf om voëls op baie ver afstande waar te neem. Die eerste vraag wat dan ontstaan is watter tipe verkyker is die beste vir voëlkyk? Die tweede vraag is watter voëlgids is die beste om voëls mee te identifiseer, of om meer oor die voëlspesie se doen en late op te lees? My antwoord op albei vrae is gewoonlik ‘dit wat vir jou bekostigbaar is’. Kykers kyk my dan so skeef aan en hou nie van so ‘n antwoord nie. Wel – dan sê ek vir hulle koop dan vir jou ‘n Swarovski, Zeiss of Leica verkyker.

Oor die voëlgids noem ek net één voëlgids – die nuutste ‘Roberts Voëlgids’ Dit is volgens my die beste voëlgids! Met die keuse van die verkyker sal daar gou uitgevind word dat die genoemde drie tipes verkykers nie so bekostigbaar is nie.

Die huidige voëlgidse op die mark is almal relatief goedkoop en enigeen is bekostigbaar, maar watter een voldoen aan jou behoeftes? My eerste opmerking is: Bly weg van sakboekgidse – gewoonlik pas hulle in elk geval nie altyd in hedendaagse hempsakke nie. Dit is wel so dat elke land sy eie voëlgids wil hê, soos byvoorbeeld in ons streek, Voëls van Suid Afrika, Botswana, Namibië, Zimbabwe, Mosambiek, Angola, Lesotho en Swaziland. Ek en u het al van hierdie omliggende lande besoek én het tot vandag toe nog vriende en/of familie daar wat ons besoek. Moet ons nou sewe voëlgidse hê?

Nee, koop die Roberts voëlgids en al sewe lande se voëls in die suider Afrika-streek is ingesluit.

* Feathers Voëlklub probeer om veilig te wees en met die toename van Covid-19-gevalle hier in Parys, sal daar steeds geen byeenkomste wees nie. Daar is normaalweg ook nie uitstappies in Junie en Julie nie, want dit is bietjie koud so vroeg in die oggend. Voëlkykers kan gerus vir Hansie Bekker, (056) 811 4754 of 082 820 4306, of Peter Killian by 083 625 8100 skakel vir inligting oor die klub. Hulle sal ook probeer om jou navrae oor voëls te beantwoord.    

Related Articles

Back to top button