News

Operasie Ons Leer Haar Bestuur was in volle swang

Daar was baie trane, argumente en koffie betrokke, maar eind goed alles goed.

Ek geniet dit om motor te bestuur. Dit was nie altyd so nie.

 

Om die waarheid te sê, ek het drie keer my leerlinglisensie die eerste keer gekry.

Hier in 1998 rond laat weet Anneke my sy het haar lisensie gekry.

Sy is ses jaar ouer as ek, en sy en bestuur was ook haaks.

“Hoe?,” vra ek.

“Jy moet vra wie?,” antwoord sy.

Blyk toe sy het ‘n goeie bestuurskool ontdek.

“Jy moet kom. ‘n Mens kan nie so sonder ‘n lisensie nie.”

Dit was in my staatsdiensjare waar ek voordele gehad het soos ‘n jaarlikse bonus.

Ek sit lank voor die tyd verlof in en bespreek solank die eerste lesse.

Anneke laat weet ek kan my hele vakansie by hulle kom bly.

Die kere wat ek in Vanderbijlpark kom kuier, vat Ma my uit op die grootpad.

Sy leer my hoe om draaie te vat. “Onthou mens draai in jou baan, jy ry nie jou bure dood nie,” is haar advies.

Die vakansie breek aan. My eerste les babbel ek aanmekaar en verstaan van K53 net mooi niks.

Die probleem was ook die instrukteur.

Dié het toe mos die mooiste blou oë en elke keer as ek moet “blindekol links” is dit al wat ek sien.

Ek het elke dag les gehad. Offer my hele bonus op.

Party lesse was bietjie kort, want Anneke en Bessie waardeer toe nou ook die man se mooi blou oë en gesels te lekker as ek vir ‘n les moet gaan.

Die eerste Saterdagoggend kom niggie se man in.

“Waar is jou kar se sleutels?,” vra hy.

“Wil jy die kar uit trek om joune te kry? Gaan jy dorp toe?” vra ek terwyl ek die sleutels kry.

“Ons gaan dorp toe,” kry ek antwoord. “Met jou kar en jy gaan bestuur.”

Ek kry amper ‘n hartaanval. “Die dorp op ‘n Saterdag! Is jy mal?”

Maar hy hou voet by stuk en ons is dorp toe.

Na so paar kilometer lag hy te lekker vir my.

“Wat nou?” vra ek.

“Jy hanteer die rathefboom asof dit ‘n stuk hondebollie is. Vat die ding vas man. Jy is in beheer.”

Naweke was rof.

Dan het Bessie van Pretoria gekom en operasie: “Ons leer haar bestuur,” was in volle swang.

Eers ‘n sessie saam met Bessie. Terug huis toe. “Ek is nou gedaan. Anna dis jou beurt.”

Ek wil nog protesteer, maar Anneke staan gereed. “Kom, kom, kom… ons moet ry.”

Vlak voor die einde van my verlof het ek ‘n afspraak vir die groot toets.

“Jy het die gaafste toetsbeampte van die lot,” sê die blou-oog instrukteur. “Jy kan alles doen. Hou op stres.”

Ag ja. Vergeet ek toe uit die bloute hoe om ‘n parallel parkering te doen.

My baie instrukteurs skud net die kop en drink nog koffie.

‘n Paar weke later was ek seker meer ontspanne, want toe slaag ek maklik.

Gelukkig het ek eers daarna gehoor ek was die tweede keer by die moeilikste toetsbeampte in die dorp!

 

Operasie Ons Leer Haar Bestuur was in volle swang

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button