NewsNews

Verslawing: Krisisbestuur het deel van ons lewens geword

Verslawing: Krisisbestuur het deel van ons lewens geword

Die dag toe my seun se vriendin my gebel en gesê het sy het ‘n sakkie wit poeier by hom gekry, het my wêreld in duie gestort.

“Ek het gevoel soos die “failure”. Wat het ek verkeerd gedoen met sy opvoeding? Wat nou? Hoe hanteer ‘n mens dit? In my beroep het ek geweet van ‘drugs’.

Maar wanneer dit aan jou voordeur klop, slaan jy toe.

Ek was vir lank ‘n enkelouer. Sy pa nie so betrokke by hom as wat ek sou wou hê nie. ’n Seun het sy pa nodig. Maar ek het die beste gedoen en gegee wat ek kon…of só het ek gedink. Ek het nagte wakker gelê en gewonder – is geen nuus goeie nuus? Tot ek ‘n boodskap kry – hy is al weer weg! Ek probeer bel. Sy foon is af. Tot vandag kan ek die retoriese refrein nie hanteer nie – “You have reached the voice mail box of …. “

Dan begin die worries – is hy veilig? Is hy honger? Kry hy koud? Wat as die polisie hom vang? Ek slaap nie veel nie. Belangrike dae soos verjaarsdae, familie byeenkomste ensovoorts was altyd ‘n ‘trigger point’ om een of ander rede. Ek is kwaad. Wat sê ek vir almal? So dan jok ek en sê hy voel nie lekker nie. Hy sal nie die familie vandag sien nie, maar die dag lê nog voor en ek moet maak asof niks fout is nie. Ek het besef, nadat ons van die ‘drugs’ uitgevind het, dat verskeie kere wat hy gebel het met verskonings dat hy geld nodig het, alles leuens was.

Maar hoe kan jy nie jou kind help nie? Net om later te wonder of dit ook ‘n leuen was. Krisisbestuur het deel van ons lewens geword.

Maar ook leuens, manipulasie en verwyte. En toe kry hy hulp as buitepasiënt by ‘n rehabsentrum. Ek voel verlig. Ons woon ‘n sessie by. Dis emosioneel, maar dit voel tog of daar hoop is. Dan ‘relaps’ hy weer. Ek kan nie verstaan hoekom kan hy nie net besluit hy gaan nie weer die goed gebruik nie.

As hy planne kan maak om geld in die hande te kry, hoekom nie vir ons sê: “Help ek het ‘n ‘craving’ nie”. Ek slaap nie die nag nie. Dis een van die koudste nagte die winter. Ek lê in ‘n warm bed. Ek voel skuldig.

Tydens die sessie by die buitepasiënte rehabsentrum het die man verduidelik hoe ‘drugs’ jou brein vernietig. Dat jy nie reg kan dink nie, daarom oorheers die ‘cravings’ jou verstand. Dit vernietig jou spiere, jou lyf. Ek weet hy kort hulp en dat dit meer intens moet wees as ‘n sessie een dag per week, maar waar kry ons die geld, wat van sy werk? Die vrae loop kringe deur jou gedagtes as ek weer eens ‘n nag wakker lê. Sy meisie verbreek hul verhouding en ek ry om hom te gaan haal. Hy is by my, maar hy’s nooit tuis nie.

Maak nie saak wat hy sê, en ook sommer dinge wat hy nie sê nie, laat my twyfel. Jok hy, of nie? Ek luister by die badkamerdeur of ek ‘n gesnuif hoor. Ek bekyk sy gesig of ek poeier kan sien in sy neus. Dit was aaklig. Ek voel skuldig omdat ek hom nie vertrou nie. Ek begin oplees oor verslawing. Daar is baie soorte verslawing. “Gaming” , eetversteurings, drank, sigarette, dobbel, pornografie ens ens. Sommige wettig ander onwettig. Ek vind uit oor ‘n rehabsentrum. Hulle verkies dat ‘n pasiënt vrywillig moet aanmeld, maar as dit nie kan nie is hulle bereid om hom te kom haal.

Ons kry dit reg om hom te oorreed om te gaan vir behandeling. Maar om jou kind af te laai en jy weet nie wanneer jy hom weer gaan sien nie, is baie emosioneel. Ek is bly, maar ook hartseer. Die week daarna slaap ek beter. My kind is veilig. Vir nou. Ek verlang baie. Na ses weke mag ek ‘n oproep maak een keer per week – vir 10 minute. Die mense by die ‘rehab’ is wonderlik. Engele wat amper al hul tyd afstaan om dié in nood te help. Ek kom agter dat dit eintlik net ek is wat nie geweet het dat hy ‘drugs’ gebruik. Dit slaan jou soos ‘n vuishou. Hoekom raak mense nie betrokke om sulke probleme aan te spreek nie. Ek bedoel dis jou kind se vriende. Hulle het so te sê in jou huis grootgeword. Hoe meer ek oplees, uitvind en met ander ouers praat, kom ek met ‘n skok agter ‘drugs’ is oral te koop.

Dis net ‘n telefoonoproep weg. Jy kan dit bestel soos ‘n ‘take-away’. As jy weet waarna om te kyk sal jy die tekens op straat raaksien en so kry ‘n mens ‘drugs’ om elke hoek en draai te koop. Almal wonder, weet eintlik waar dit verkoop word, maar niemand doen iets daaromtrent nie. Dan hoor jy dié en daardie persoon is ook verslaaf. Ek sal graag wil weet hoe kry mense dit reg om daagliks te funksioneer en terselfdertyd ‘drugs’ te gebruik? Dit maak nie vir my sin nie, maar tog kry hulle dit reg. Maar dit kan nie vir lank aanhou nie, want ‘drugs’ vernietig jou lewe. Jy verloor wat kosbaar is vir jou. Jy verloor jou werk. Dit ruïneer jou finansies.

Op die ou end beland jy op straat. Die slim mense noem dit “Tough love”. Ek het nou die dag met ‘n ma gepraat. Sy kan glad nie bekostig om haar kind weg te stuur nie. Hy wil ook nie gaan nie. Die hof het hom na ‘n ‘rehab’ gestuur vir ‘n paar weke, maar hy het teruggekom. Weer gesteel, almal se lewens weer omgekrap en reguit vir haar gesê hy is nie bereid om ‘drugs’ op te gee nie. Om haarself, haar man en die kleinkinders te beskerm moes sy die moeilikste besluit neem. Vandag bly hy iewers op straat…….

Daar is baie sulke stories.

Min verslaafdes kan rehabiliteer binne ‘n paar weke. Ek weet van net een so ‘n wonderlike storie. Al wat daardie persoon staande hou is geloof. Rehabilitasie neem maande, selfs ‘n jaar of so. En selfs dan is daar nie ‘n waarborg dat hy/sy nooit weer sal ‘relaps’ nie. Verslawing is soos ‘n chroniese siekte wat in remissie is.

Ons wêreld word oorgeneem deur ‘drugs.’ Owerhede gooi ‘n blinde oog.

Die probleem is (1) of al te groot om uitgeroei te word, of (2) te veel mense maak geld daaruit. ‘n ‘Drug dealer’ gebruik nie self ‘drugs’ nie. Nee hulle lewe in ‘luxury’. Mooi huise, blink motors. Hulle self is gesond, maar hulle wat hieraan blootgestel word raak maer en uitgeteer….en lewe op straat.

Ek sal graag aan ouers wil sê – wees betrokke by jou kinders. Weet waar jou kind is en saam met wie. Ek kan selfs sê gaan jou kind se foon na. Laat jou kinders werk vir hulle sakgeld. Moet nie net geld in die hand stop nie, MAAR kinders het ook menseregte, en ouers het nie meer altyd die laaste sê nie. Ek wens ek het al bogenoemde gedoen. Dan sou ons lewens dalk anders gewees het vandag.

Ons lewe is ‘n warboel.

Ouers moet werk om die pot aan die kook te hou en te voorsien, en kinders kom nie met ‘n ‘manual’ nie. Ek kan nie genoeg vra – let op aggressiewe gedrag. Vergrote pupille. Slaaploosheid. En as daar vermoed word dat ‘n persoon ‘drugs’ gebruik, doen dadelik iets daaromtrent. Die behandeling hang af van die tydperk wat die middele gebruik is. Ek voel steeds dat die dag toe winkels op ’n Sondag begin handeldryf het, het ons verval begin. Kerke het leeg geloop.

Sonder volle geestelike rypheid sal ons nie die toets kan weerstaan wanneer allerlei beproewings oor ons pad kom nie  

   

Related Articles

Back to top button