News

Dalk is ‘superbike’ ry volgende

Dit wil gedoen wees op 72!

   

 

Vir ‘n uitdaging het Ouma Pollie van Edenvale nog nooit teruggestaan nie. Nie eens as dit beteken dat jy op 72 kan valskermspring nie. Noem dit en Paula de Vos het dit gedoen – van valskermsweef (paragliding) tot zipline en in ‘n haaihok duik. Nadat haar seun Jackie, in 1995 tydens ‘n swembadongeluk sy nek gebreek het en voltydse versorging as kwadrupleeg nodig gehad het, het ouma Pollie na hom omgesien tot met sy afsterwe in 2019. In dié 24 jaar was sy bykans nooit met vakansie nie, behalwe vir ‘n wegbreek hier en daar – en dan net as daar geriewe was sodat Jackie kon saamgaan.

In 2017 is haar man skielik oorlede en moes sy baie op haar tenger skouers neem. Maar vir ‘n uitdaging het sy deur al die jare nog nooit teruggestaan nie. Voor Jackie se dood het sy onder meer ge-zipline in Heidelberg, in ‘n haaihok geduik by die Ushaka-Marine World en in ‘n mikroligte vliegtuig gevlieg. Na Jackie se dood is sy Phuket toe en het daar paragliding gedoen en ‘n tatoeërmerk met Jackie se naam gekry.

En toe kom die gedagte van valskermspring. “Ons het haar ondersteun, want ons weet “there’s no holding back Pollie,” vertel die De Vos-familie. Sy het die doktersnota gekry om haar die “all clear” te gee en was dit Saterdag, 5 Junie, ouma Pollie se groot dag toe sy uiteindelik ook dié droom in Parys kon bewaarheid. Sy het ‘n tandem-sprong saam met Michael Visser van Skydive Parys gedoen, met Neil Grobler wat die hele aksie verfilm het.

Van haar kinders en kleinkinders was ook saam met haar hier om te deel in die opwinding, want vir haar kinders en vyf kleinkinders is Ouma Pollie die beste ma en ouma ooit.  

 

Ouma Pollie waar sy die naweek haar eerste tandem-valskermsprong saam met Michael Visser gedoen het.

       

 

Die familie sê dankie aan Skydive Parys vir hul uitsonderlike en professionele diens om die dag spesiaal te maak. “Ons dank ook aan ons Hemelse Vader wat vir ons so ‘n uitsonderlike en lewenslustige moeder gegee het.” Mens sou vra wat is volgende? Ons is self nie seker nie, maar Ouma Pollie het iets genoem van ‘n superbike om ‘n renbaan…  

 

 

Related Articles

Back to top button