NewsNews

Lang rye tot laat om inenting te kry – wenke om te onthou

Onthou dié wenke

Mense 60 jaar en ouer het Maandag van vroeg die oggend te midde van ysige wintertemperature by die NG Moedergemeente perseel in Parys gewag om hul eerste dosis Pfizer-inenting teen Covid-19 te kry. Ten spyte van uitdagings en oponthoude, het meeste mense baie lof gehad vir die vriendelike en hulpvaardige gesondheidswerkers wat met groot deernis en baie professioneel hul diens verrig het Mense was ook baie dankbaar vir die geleentheid om die entstof gratis te kon kry, veral hulle wat kinders en kleinkinders in die buiteland het en graag weer wil reis met die gemoedsrus dat hulle wel inenting teen Covid-19 gekry het.    

Elize Odendaal ontvang haar eerste dosis Pfizer inenting. Iets waarvoor sy lank gewag het sodat sy met ‘n gesruste hart ook weer na haar kinders in die buiteland kan reis.

    Daar was mense in rolstoele, met looprame, mense wat lank gewag het vir die dag om te kon gaan inent en angstig gewag het op ‘n sms om te hoor waar hulle die inenting sou kry.

 

Môre, Woensdag 9 Junie is daar weer geleentheid vanaf 09:00 vir mense in Parys wat nie inwoners van sorgsentrums of tehuise vir bejaardes is nie, om by die NG Moedergemeente perseel (in die straat agter Absa) hul inenting te kry. Daar sal ook Woensdag  ‘n span by die Kwakwatsi munispale saal in Koppies wees  en by die Bethel Bible Church in Phiritona, Heilbron.

 

Vandag, Dinsdag 8 Junie is gesondheidswerkers by die publieke inentingspersele by die Uniting Reformed Church in Phiritona, Heilbron, asook by die SS Phaki Skoolsaal in Vredefort, en die AME Church in Tumahole.

 

‘n Span sal ook vandag Serendipity Tehuis vir Bejaardes en Villa Riviera in Parys besoek. Let wel slegs inwoners van die tehuise word by hierdie persele gevaksineer en is dit NIE publieke inentingspersele nie.  

VIr baie was dit ‘n oomblik waarvoor daar lank gewag is.

     

 

Onthou asseblief die volgende as jy 60 jaar en ouer is en vaksinering wil ontvang  

  • Neem jou ID dokument en mediese fonds kaart saam as jy ‘n mediese fonds sou hê.
  • Inenting is gratis en vrywillig
  • As jy nie vooraf kon registreer nie, sal personeel jou help om te kan registreer. As jy wel geregistreer het en ook nog nie ‘n sms ontvang het nie, is jy ook welkom om te gaan. Jy sal gehelp word.
  • Onthou jou masker en neem sommer jou eie pen en saniteermiddel ook saam
  • Omdat mense al vroeg-vroeg begin tou staan is dit raadsaam om vroeg te gaan.
  • Neem sommer ‘n kleinerige kombersie en ‘n flessie koffie saam teen die koue.  ‘n Bietjie toiletpapier in jou sak kan ook handig wees. Daar is baie mense wat die badkamers moet gebruik en dit kan ‘n lang dag vir jou word.
  • Baie bejaardes is onseker oor hul selfoonnommer en adres wat vir jou gevra sal word wanneer jou besonderhede nagegaan word. Skryf dit neer dan het jy dit byderhand.
  • Maak sommer ook ‘n lysie van jou medikasie wat jy tans gebruik en waarvoor dit is. Dit gebeur dikwels dat ‘n mens nie op die naam van die medikasie kan kom wanneer jy daarvoor gevra word nie. Dit is belangrik dat jy die regte inligting vir die gesondheidswerkers sal gee.
  • Onthou dat gesondheidswerkers lang ure werk, self ook gesinne het en voor baie uitdagings te staan kom. Daar mag haakplekke wees want daar is baie wat gehelp moet word. Baie reëls om te gehoorsaam. Wees asseblief geduldig en hê begrip sou daar oponthoude wees.
  • As jy sien dat daar mense is wat baie swaar loop of baie bejaard is, wees bedagsaam en gee dalk vir hulle ‘n kans om voor jou in die ry in te val. Dit mag dalk vir iemand baie moeiliker wees om so lank te sit in ‘n ry as wat dit vir jou is, al was jy eerste daar.
  • Onthou dat jou bloeddruk moet reg wees voordat jy die vaksinering kan kry. Maak seker jy gebruik jou bloeddrukmedikasie soos wat jou geneesheer dit vir jou voorgeskryf het.
  • Sosiale afstand is almal se verantwoordelikheid – gesondheidswerkers moet toesien dat die protokol gehandhaaf word, maar deur saam te werk, en self ook seker te maak jy hou jou afstand, dra jou masker te alle tye in die openbaar en saniteer gereeld, maak jy hul las ligter. Hulle kan nie hul werk doen en nog toesien dat mense protokol deurentyd gehoorsaam nie.
‘n Pluimpie vir ons gesondheidswerkers wat werklik met groot deernis vriendelikheid en baie professioneel gister lang ure gewerk het by die publieke inentingsfasiliteit by die NG Moedergemeente in Parys.

       

ONTHOU AS JY MAANDAG 7 JUNIE PFIZER VAKSINERING ONTVANG HET MOET JY JOU TWEEDE DOSIS VAKSINERING OP 19 JULIE KRY  

Fanie Pretorius van Crater Coffee kry sy eerste dosis Pfizer inenting by suster Mokoena

     

Related Articles

Back to top button