NewsNews

Kragskok: Jy dalk tot 20% meer betaal

Kragskok: Jy dalk tot 20% meer betaal

     

 

Ngwathe se stadsraad het verlede Vrydag op ‘n virtuele raadsvergadering die munisipale begroting vir die nuwe finan-siële jaar goedgekeur. Dit is die huidige raad se vyfde en finale begroting voordat dit ontbind vir die munisipale verkiesings op 27 Oktober. Die begrotingsvoorstelle is vroeër verlede maand aan die publiek vir openbare bespreking en raadpleging voorgelê. Die nuwe munisipale jaar begin aanstaande maand (1 Julie). Ngwathe se tariewe styg met 4.1%, behalwe water (dit styg met 5%) en elektrisiteit wat, hoofsaaklik as gevolg van enorme Eskom-verhogings, mag styg met 20% (onderhewig aan goedkeuring deur Nersa, die reguleerder van elektrisiteitspryse). ie finale nuwe tariefskaal is beskikbaar eers na die middel van Junie, nadat Nersa-besluit het. Die begroting voorsien totale bedryfsuitgawes oor die jaar heen van R900 miljoen, en bykans R160 miljoen in kapitaalbesteding, dit wil sê uitgawes op vaste of te wel kapitale bates. DA-raadslede het gesê hierdie begroting is baie moeilik.

“Ons sou graag meer besteding aan infrastruktuur (soos strate, kragdrade, waterpype en -suiwering) wou sien, maar munisipale inkomste is onder groot druk en daar is reeds té min geld vir alle lopende uitgawes.” DA-raadslid Arnold Schoonwinkel, Ngwathe se DA-segsman oor munisipale finansies, het toe voorgestel dat die raad sy bestaande finansiële Taakspan opdra om baie aktief te fokus op kostebesparings sonder om diensgehalte te verswak. “Ons moet uitvind hoe om meer gedoen te kry met dieselfde geld, deur vrugtelose en onproduktiewe uitgawes asook korrupsie te verminder.” Hy het ook gevra dat die Taakspan maniere voorstel om ‘n inkomste te verdien uit Ngwathe se talle onbenutte bates, soos die Mimosa-tuine, Heilbron se ontspanningsoord en verhuurbare behuising en persele van die munisipaliteit.

“Ons moet kenners vra vir insette, en veral plaaslike sakelui ook,” het Schoonwinkel bygevoeg. Hy verwag dat DA-raadslede binne weke spesifieke voorstelle aan die Taakspan sal kan voorlê. Die voorstel is eenparig aanvaar. Rdl. Phillip van der Merwe (Vryheidsfront Plus) het gesê die begroting moet noodgedwonge in geheel aanvaar word, maar voorgestelde wysigings in die begrotingbeleidsdokumente weerspreek plek-plek die nuwe tariefstruktuur, en dit moet reggestel word. Tariewe moet ook gesinchroniseer word sodat dieselfde kategorieë verbruikers by elke diens ooreenstem. As voorbeeld het hy genoem dat daar in riooltariewe vier soorte besigheidsverbruikers vermeld word, terwyl by elektrisiteit slegs twee kategorieë bestaan. Dit skep onnodige verwarring.

Hy het aangedring dat ‘n ondersoek gedoen moet word na tariefstrukture om veral ook te bepaal of Ngwathe se huidige tariewe werklik kosteverwant is. Hy het ook bevraagteken of die gepubliseerde aannames oor die munisipaliteit se verwagte maandelikse inkomste nie in die lig van Covid-19 te optimisties is nie. “Verhalingskoerse was in die verlede reeds laag en inwoners sal, gegewe die huidige ekonomiese toestande en die verwagte styging van elektrisiteitskoste, nog meer sukkel om Ngwathe te betaal wat hulle moet.”

Raadslid Van der Merwe het die voorgestelde verhoging van kortings op erfbelasting aan pensioenarisse verwelkom. Pensioenarishuishoudings met ‘n totale inkomste tot R4 300 per maand sal 100% korting ontvang, tot R4 850 per maand 60%, tot R7 500 per maand 30% en tot R8 170 per maand 15%. “Dit sal darem bietjie verligting vir pensioenarisse meebring” sê hy. Gazette sal later die volledige nuwe tariefskale publiseer.    

 

Related Articles

Back to top button