News

Boeliegedrag nie net fisies nie, kyk ook na die kuberruim

Boeliegedrag nie net fisies nie, kyk ook na die kuberruim

     

 

Die selfmoord van Lufuno Mavhunga (15), ‘n graad 10-leerder van Mbilwi Sekondêre Skool in Limpopo, het die werklikheid van boeliegedrag in skole weer op die voorgrond geplaas. Lufuno het selfmoord gepleeg nadat ‘n video-opname waar sy geboelie en aangerand word, op sosiale media versprei is. Haar aanrander was ‘n meisie – ’n leerder van dieselfde skool, ook 15 jaar oud. Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum het die afgelope maand, en spesifiek ook gedurende Kinderbeskermingsweek ‘n paar van die skole in die omgewing besoek, waaronder Dome Primary School, Parys Christelike Skool, Weiveld Landbou- en Hotelskool en Hoërskool Parys.

 

   

 

Die Parys Gemeenskap Polisiëring Forum het die afgelope maand, en spesifiek ook gedurende Kinderbeskermingsweek ‘n paar van die skole in die omgewing besoek.

 

Gedurende hierdie besoeke is twee tema’s voortspruitend uit die ontydige dood van Lufuno aangespreek, naamlik boeliegedrag in skole, en die gevare van sosiale media. Dit is volgens Anne-marie du Toit, Parys GPF-voorsitter, belangrik vir ouers om te besef dat boeliegedrag nie noodwendig net fisies is met ’n gestamp en gestotery nie. Dit kan ook verbaal, emosioneel en oor die kuberruimte plaasvind. Boeliegedrag kom voor waar iemand met opset en herhaaldelik iemand anders onstel, bang maak, dreig of seermaak, of iemand anders se eiendom, reputasie of sosiale status skade aandoen. Alle tipes boeliegedrag is gevaarlik en kan langdurige skade veroorsaak. Dit is belangrik vir ouers om die tekens by ’n kind wat geboelie word raak te sien. Hoewel hierdie nie die enigste tekens noodwendig is nie, is algemene tekens wat gesien word ‘n skielike weiering om skool by te woon, angstigheid, isolasie van ander leerders, raak moeilik aan die slaap, lae selfbeeld, emosionele verandering, of ‘n verandering in optrede. Jou kind het skielik beserings wat hy nie kan verduidelik nie, of sy punte op skool neem drasties af. Jou kind kla dalk skielik en gereeld oor hoofpyn, maagpyn of ander fisieke probleme. Dit is belangrik om na jou kind te luister en hom by te staan en te verduidelik dat die boeliegedrag nie sy/haar skuld is nie. Jy moet boeliegedrag onmiddellik aan die skool rapporteer. Om die leerder of sy/haar ouer direk te kontak, mag meer skade doen as goed, en is dit veiliger om deur die skool te werk wanneer die boelie aangespreek word. Indien die geboelie nie stop nie, of die skool tree nie op daarteen nie, kan jy regsadvies inwin, veral waar die geboelie fisiek van aard is. Jy kan dit by jou naaste polisiestasie rapporteer, of die hof nader vir ‘n interdik teen teistering.

Jy kan ook ‘n dokter vra vir ‘n verwysing na ‘n opvoedkundige sielkundige. Onthou dat fisieke boelie ‘n misdryf is (aanranding) en altyd aangemeld behoort te word by die polisiestasie. Kuberboelie sluit enige interaksie oor die internet in waardeur ‘n individu ‘n kind seermaak. Met ander woorde, hul gebruik die internet om ‘n kind te teister, of in die verleentheid te stel, en omrede die kuberspasie soveel groter is, kan kuberboelie soms soveel meer skade aan ‘n jong kind aanrig as een fisiese voorval. Kuberboelie kan gemaklik plaasvind op enige sosiale media platform, selfs per epos, WhatsApp of sms-boodskappe.

Die boodskappe kan òf kwetsende woordeskat gebruik, òf neutrale boodskappe wees wat op gereelde basis aan iemand gestuur word sodat dit op teistering neerkom. ‘n Belangrike voorbeeld van kuberboelie of -teistering sluit in waar ‘n boelie voorgee om iemand anders te wees deur ‘n vals (fake) aanlyn profiel te skep. Die gevare van die internet is legio, maar daar is ook ‘n positiewe kant aan die internet, wat in ‘n verdere berig aangespreek sal word. Die Parys GPF waarsku ouers dat boeliegedrag aan die toeneem is, veral oor die internet, en dat ouers en onderwysers op die uitkyk moet wees daarvoor.      

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button