News

ELM-administrateur aangekla oor rioolbesoedeling

ELM-administrateur aangekla oor rioolbesoedeling

Die VF Plus het  ‘n strafregtelike klag by die Vanderbijlpark-polisiekantoor ingedien teen die hoofadministrateur van die Emfuleni-plaaslike munisipaliteit Gilberto Martins, weens die oortreding van die Nasionale Waterwet, die Nasionale Omgewingsbestuurswet en bowenal Artikel 24 van die Grondwet.

Dié artikel bepaal dat elke mens die reg tot ʼn omgewing het wat nie skadelik vir sy welsyn of gesondheid is nie. Die klag volg op die besoedeling van die Vaalrivier deur riool wat vanuit stukkende rioolaanlegte die rivier binnestroom.

 

Die VF Plus het reeds verlede jaar ‘n voorlegging aan die Menseregtekommissie (MRK) gelewer oor die besoedeling van die Vaalrivier. Die MRK het in Februarie vanjaar die Vaalrivierstelsel-besoedeling tot ‘n menseregteskending verklaar en hou die Emfuleni-munisipaliteit, die Gautengse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) asook die departement van water en sanitasie verantwoordelik vir die totale ineenstorting van Emfuleni se watersuiweringstelsel. Die party het die MRK se ingryping verwelkom maar getwyfel of die regering spoedig R1 miljard kan bewillig om die Emfuleni-munisipaliteit se rioolwerke te herstel.

 
 

Die VF Plus het ook die Groen Skerpioene versoek om die saak te ondersoek nadat die laaste werkende groot pompstasie wat onverwerkte riool na die watersuiweringswerke moet lei, uitgebrand het. Die ander drie groot pompstasies is reeds ‘n geruime tyd buite werking en verlede week is die Rietspruit-waterwerke tot stilstand gedwing weens kabeldiefstal. Pompstasies reg langs die bekende Riviera-hotel in Vereeniging en die Emerald Resort & Casino in Vanderbijlpark is ook buite werking. Die onvermoë van die derde stel administrateurs wat deur die Gautengse ANC-regering na Emfuleni gestuur is om dienslewering te red, het ook klaaglik misluk. Die VF Plus het Martins al verskeie kere gewaarsku om sekerheidsplanne in werking te stel om Emfuleni van totale ondergang te red. Die tuimelval van dié munisipaliteit is haas onomkeerbaar en belastingbetalers word daagliks blootgestel aan water- en kragtekorte, rioolbesoedeling en vullisverwydering wat slegs sporadies plaasvind. Die tyd het aangebreek dat administrateurs van die munisipaliteit, die LUR vir Cogta, Lebogang Maile en die minister van water en sanitasie, Lindiwe Sisulu, verantwoordbaar gehou word vir die vervalle toestand van die munisipaliteit en die besoedeling van die Vaalrivierstelsel. Die VF Plus doen ‘n beroep op inwoners om met die komende plaaslike regeringsverkiesing saam met die party op te staan, saam te staan en sterk standpunt in te neem teen die wanbestuur en vernietiging van dienslewering in Emfuleni.

Rdl. Gerda Senekal van die FV Plus het ‘n strafregtelike klag ingedien teen die hoofadministrateur en ook die Groen Skerpioene versoek om die saak te ondersoek nadat die laaste werkende groot pompstasie wat onverwerkte riool na die watersuiweringswerke moet lei, uitgebrand het. 

https://vaalweekblad.com/96130/elm-administrateur-aangekla-oor-rioolbesoedeling/

Related Articles

Back to top button