NewsNews

Ma steeds hoopvol na traumatiese aanval 18 jaar gelede

Ma steeds hoopvol na traumatiese aanval 18 jaar gelede

 

 

Meyer Olivier (26) was maar 8 jaar oud toe hy 18 jaar gelede deur ‘n boerboel aangeval is. Hy het verskeie operasies ondergaan om sy geskende gesig te rekonstrueer.

 Behalwe vir die letsels aan sy gesig en kop, het hy in die aanval onder meer ‘n deel van sy oor en sy hele neus verloor. Die sig in sy regteroog is ook aangetas. Die steke in sy gesig was so baie dat hy daarvoor ook twee en ‘n halwe uur teater toe moes gaan.

Zelona en Meyer in Junie 2003 na hy operasies ondergaan het om sy gesig te herstel. Foto: Venessa van der Westhuizen

Na al die jare is die operasies nog nie heeltemal verby nie. Meyer moet binnekort weer ‘n operasie aan sy neus ondergaan omdat hy nou, veral in die winter, sukkel om asem te haal. Van die weefsel aan sy neus het ook effens opgetrek.

Hoewel hy wonderbaarlik van die fisiese wonde herstel het, het die emosionele skade wat die traumatiese gebeurtenis veroorsaak het, groter letsels veroorsaak. Dit is dalk nie so sigbaar soos die letsels aan sy gesig nie, maar vir Meyer sny dit dieper.

Sy ma, Zelona van der Merwe, vertel dat Meyer vir maande na die aanval angsaanvalle in die nag gekry het wat só erg was dat hy hospitaal toe geneem moes word om gekalmeer te word. Hy het ‘n baie inkennige kind geword en sukkel steeds om oogkontak met mense te maak. “Sy lees- en skryfvermoë het geblok op die ouderdom wat die aanval gebeur het. Hy kom mooi reg met die lees, maar sukkel om te skryf. Dokters het later vasgestel dat sy IK nie aangetas is nie, maar dat hy ‘n emosionele blok het weens die trauma wat nie gelig kan word nie. Hy moes daarom later by ES le Grange sy skoolopleiding voltooi,” sê Zelona.

Sy vertel graag watter wonderlike ondersteunende rol mense na die aanval gespeel het om Meyer van sy honde-fobie te genees. Volgens Zelona was Meyer na die aanval elke keer histeries wanneer hy ‘n hond gesien het. Destyds het Piet Muis by die honde-eenheid van die polisie hiervan te hore gekom en Meyer genooi om met die honde te werk. “Hy was aanvanklik baie skrikkerig, maar die honde was dadelik mal oor hom. Stelselmatig het hy weer aan die honde gewoond geraak en vandag is diere sy grootste passie,” vertel Zelona. Hy wil juis graag eendag ‘n beroep hê waar hy met diere werk.

Vir Zelona was die pad met Meyer se herstel van die begin af moeilik. Sy moes destyds ‘n egskeiding verwerk voor die ongeluk plaasgevind het en is net na Meyer se trauma met kanker op haar tong gediagnoseer.

Dokters was verbaas oor die tipe kanker wat sy op 39-jarige ouderdom ontwikkel het. “Die kankerspesialis het gesê die tipe kanker kom gewoonlik net by mans ouer as 60 jaar voor wat baie rook, drink en sterk kerrie eet. Hulle verklaring was dat die stres wat ek deurgegaan het, die kanker geaktiveer het,” sê sy.

Haar positiewe ingesteldheid en geloof in Christus is wat haar sover gedra het. “‘n Mens kyk anders na die lewe as jy soveel struikelblokke oorkom het. Materiële besittings is ook nie meer belangrik nie,” sê sy. Volgens haar het sy en haar seun ‘n tweede kans in die lewe gekry.

“Mense geniet Meyer se skerp sin vir humor en waardeer sy hart van goud. Hy geniet dit om terug te ploeg in die gemeenskap en is altyd gretig om mense te help wat swaarkry,” vertel sy ma trots.

Zelona het nou net een doel voor oë en dit is om vir haar seun werk te kry. “Ek is bekommerd omdat hy nog nie onafhanklik is nie. Wat gaan van hom word as ek nie meer daar is nie?,” vra sy bekommerd. Tog glo sy dat die regte deure vir hom later ook sal oopgaan.

 

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button