NewsNews

Dit is hoekom gemeenskapskoerante werk

Dit is hoekom gemeenskapskoerante werk

Wanneer ‘n mens vir 34 jaar, waarvan 32 jaar as redakteur, by koerante betrokke was, het ‘n mens dikwels die vraag gekry of jy nie moeg en verveeld word met dié taak nie. Die antwoord is eenvoudig: Hoe kan ‘n mens moeg word vir ‘n werk wat nooit een dag dieselfde is nie. Koerante teken elke dag geskiedenis aan, en dit verander letterlik van minuut tot minuut, uur na uur, en dag na dag. Hoe kan dit ooit vervelig word?

Boonop kyk ‘n mens by ‘n koerant nie net terug nie. ‘n Koerant is nie net ‘n spieëlbeeld van die verlede nie, maar waag ook soms die hand aan wat die toekoms inhou vir die gemeenskap waarin dit funksioneer. Laasgenoemde is die belangrike rol wat die koerant as waghond vir die gemeenskap speel. Daar is min wat soveel vreugde verskaf as wanneer ‘n leser jou skakel en praat van “ons” koerant. Dit behoort die strewe van elke koerant te wees. Die gemeenskap moet praat van “ons” koerant.

Met my ervaring by die Parys Gazette kan ek onomwonde sê dat die personeel by die Gazette hierin volpunte verdien. En dit sluit die redaksie, die advertensie-afdeling en administrasie van die koerant in. Dit neem ‘n span om daardie strewe van “ons” koerant te bereik. Dit is vandag soveel meer waar.

Dit is inderdaad die belangrikste rol wat ‘n gemeenskapskoerant kan speel. Dit is die resep vir oorlewing in ‘n wêreld waar die elektroniese media al meer veld wen en koerante onder groot druk plaas. In dieselfde asem kan ‘n mens sê dat doemprofete al jare terug voorspel het dat koerante teen hierdie tyd nie meer gaan bestaan nie. Koerante bestaan egter steeds, en veral gemeenskapskoerante soos die Parys Gazette, speel steeds die rol wat dit al vir meer as 21 jaar doen.

Die Gazette skryf oor Parys en sy mense. Dit is wat dit anders maak as nasionale dagblaaie. Blaai ‘n inwoner van Parys deur die Gazette, is die kans bykans honderd persent dat hy iets of iemand wat hy ken, êrens in die koerant gaan sien. Daarom lees meer mense gemeenskapskoerante in sy/haar dorp as wat enige dagblad kan droom. Om te deel in die lief en leed van die dorp, maak gemeenskapskoerante verreweg meestal vriende. Die personeel by die koerant is ook inwoners van die dorp. Hul kinders is ook hier in die skool en hulle gaan hier kerk toe, koop hier in dieselfde winkels, en ry in dieselfde strate as die gemeenskap wat hulle bedien.

Dit is onmoontlik om die sosiale betrokkenheid van die Parys Gazette by die gemeenskap oor jare te boekstaaf. Van meet af aan het die Gazette hom beywer om aan verdienstelike sake tot voordeel van die gemeenskap deel te neem. Behalwe in sy redaksionele kolomme, was en is dit ook op grondvlak (soos deelname aan verskeie gemeenskapsprojekte vir die DBV, Epilepsie SA, VVA, Tumahole Selfhelp Association for the Disabled en soveel meer) waar personeel meer doen as wat hul werksverpligtinge vereis. Parys kan voorwaar trots wees op hul koerant. Baie geluk aan die huidige personeel en aan dié wat voorheen daar in die tuig getrek het.

Ons dink ook met erkenning terug aan die stigter, Frikkie Scheepers (sr.) en later die bestuur van MooiVaal Media vir die sukses van die koerant.

 

     

Related Articles

Back to top button