NewsNews

Sopkombuis-droom ’n baken van hoop

Sopkombuis-droom ’n baken van hoop

 

Janine Conway se droom was nog altyd om haar eie sopkombuis te begin, maar het sy nooit die finansiële ondersteuning gehad om dié droom te kon verwesenlik nie.
Maar toe kom die Covid-19 pandemie.
Skielik moes oral planne gemaak word in gemeenskappe. Mense het hul werk verloor, ander se inkomste is gesny. Nood het oral aan deure geklop. ‘n Nood waarin Janine kon voorsien danksy die hulp van boere en die gemeenskap van die Vredefort-distrik.
Op 4 April 2020 begin sy en Hendrik die sopkombuis en kospakkie-projek en het vier dankbare gesinne elk ‘n kospakkie ontvang. Getalle het begin groei – en vandag, meer as ‘n jaar later, sorg Janine steeds met die hulp van ‘n omgee-gemeenskap, vir daardie maaltyd en kospakkie vir hulle wat swaar trek.
Om net minstens een voedsame maaltyd in ‘n week te kan voorsien vir hulle in nood, is die missie van Janine se sopkombuis. Maar vir haar gaan dit om veel meer as om honger te stil. Sy glo mense wat by haar kom aanklop, moet met waardigheid gehelp word. “Hulle moet voel hulle behoort.” By haar sopkombuis word niemand weggewys nie.
Vir ‘n jaar lank is die maaltye en kospakkies vir baie ‘n baken van hoop in die Vredefort-gemeenskap.
Die werk wat by dié sopkombuis gedoen word, sou egter nie moontlik wees as dit nie was vir die donasies wat getrou vir die sopkombuis gegee word. Janine sê dankie aan Erna Rademan, Phumelela Fire and Rescue, die Boeregemeenskap, Red Ribbon en verskeie anonieme skenkers.
Die voortbestaan van die sopkombuis en kospakkie-projek is egter totaal afhanklik van ondersteuning uit die gemeenskap. As jy ‘n bydrae wil maak om die nood van ander op dié manier te help verlig, kan jy Janine by 076 041 6358 skakel. Skenkings kan ook afgegee word by Charl Cillierstraat 12, Vredefort.

 

Related Articles

Back to top button