NewsNews

Potchefstroom ontwerper maak uitrustings vir Mej. Heelal-kompetisie

Potchefstroom ontwerper maak uitrustings vir Mej. Heelal-kompetisie

 

Dit was ‘n jong modeontwerper van Potchefstroom, Jolandie Fouche, wat Suid-Afrika se deelnemer by die Mej. Heelal-kompetisie se uitrustings ontwerp het. Om vir so ‘n groot geleentheid uitrustings te maak, is nie vir enige ontwerper beskore nie, daarom is Jolandie baie geëerd dat die geleentheid haar te beurt geval het. Sy is ‘n gebore en …

 

Dit was ‘n jong modeontwerper van Potchefstroom, Jolandie Fouche, wat Suid-Afrika se deelnemer by die Mej. Heelal-kompetisie se uitrustings ontwerp het. Om vir so ‘n groot geleentheid uitrustings te maak, is nie vir enige ontwerper beskore nie, daarom is Jolandie baie geëerd dat die geleentheid haar te beurt geval het. Sy is ‘n gebore en getoë Potchefstromer wat vir haar elegante trourokke bekend geword het. Hoewel sy ook aandrokke ontwerp, bieg sy dat trourokke haar eintlike passie is. Haar studio, Jolache Couture (Jolache is afgelei van Jolandie en Fouche), het onlangs na ‘n pragtige gerestoureerde Victoriaanse huis in Smitstraat geskuif en die fyn interieur vorm deel van die mise-en-scène droomwêreld van ‘n bruid.

 

Jolandie het voorheen ‘n hele reeks ontwerpe vir vanjaar se Mej. Heelal deelnemer, Natasha Joubert, gemaak toe sy aan die Mej. Suid-Afrika-kompetisie deelgeneem het. Tog sê Jolandie dat die uitrustings vir die Mej. Heelal-kompetisie baie meer insette geverg het. “Die rokke met krale detail het baie ure se fyn handwerk geverg. Vir die swart aandrok in die finale rondte, moes meer as 2 000 stringe krale met die hand vasgewerk word,” vertel sy.

Jolandie Fouche in haar ateljee voor die rokke wat sy vir Natasha Joubert ontwerp het toe sy aan die Mej. Suid-Afrika kompetisie deelgeneem het. Foto: Venessa van der Westhuizen

Jolandie het drie couture uitrustings vir die Mej. Heelal-kompetisie ontwerp wat ‘n afskeidsrok (farewell dress), die nasionale rok en die finale rok ingesluit het. Natasha het die afskeidsrok gedra tydens ‘n geleentheid in Suid-Afrika toe sy ook die nasionale rok bekend gestel het. “Dit was sommer net ‘n speelse rok,” sê Jolandie van die ontwerp.

 
 
Natasha Joubert in die afskeidsrok wat Jolandie Fouche vir haar ontwerp het. Foto: Verskaf

Sy vertel dat sy Natasha deur ‘n gemeenskaplike vriendin, Jordan Durandt, ontmoet het. Jordan en Natasha werk saam as modelle. “Ek het Natasha ses jaar gelede ontmoet en het haar drie jaar gelede weer tydens ‘n fotosessie gesien. Ons het die hele tyd in kontak gebly. Toe ek verlede jaar vir haar ‘n boodskap stuur om te sê ek stel belang om vir haar uitrustings te ontwerp, het sy my later geskakel om my mee te deel dat sy aan die Mej. Heelal-kompetisie deelneem. Sy het toe vir Werner Wessels, die organiseerder wat die ontwerpers vir die groot skoonheidskompetisies nader, gevra of ek haar uitrustings kan ontwerp. Hy het toe ingestem.” Die nasionale rok wat Natasha tydens die Mej. Heelal-kompetisie gedra het, was ‘n diepblou aandrok met krale bostuk. Die bypassende lang handskoene het Natasha soos ‘n Hollywood godin laat lyk. Jolandie sê dat sy die rok ontwerp het om die sensuele figuur van Natasha te komplementeer.

Natasha Joubert in haar nasionale uitrusting. Foto: Verskaf

Hoewel die meeste mense nie die laaste swart aandrok gesien het nie, beskou Jolandie dié rok as die ‘showstopper.’ Dié elegante en tydlose nommertjie bestaan uit panele van swart fluweel en kralewerk wat die silhoeëtte van Natasha se lyf beklemtoon.

Die rok wat Natasha Joubert in die finale rondte gedra het. Foto: Verskaf

Jolandie vertel dat sy van kleins af versot was op mooi aandrokke en dat sy foto’s van die Hollywood-sterre se uitrustings in die agterblaaie van die Huisgenoot uitgesny en in plakboeke geplak het. Sy het altyd daarvan gedroom om ‘n ontwerper te word en het eers ‘n B.Sc-graad in verbruikerswetenskappe in 2011 aan die Noordwes-Universiteit voltooi waarna sy ‘n afrondingskursus in mode-ontwerp aan die North West School of Design in Klerksdorp voltooi het. Dit is by dié skool waar sy die fynere kunsies van ontwerp geleer het.

Die stringe krale wat in die swart aandrok met die hand vasgewerk is. Foto: Verskaf

Sy het baie klein begin en het trourokke uit haar woonstel gemaak waarna sy later in ‘n vennootskap saam met ‘n ander ontwerper gegaan het. Na vier jaar het sy besluit sy is gereed om op haar eie te gaan. Vandag het sy haar eie onderneming met vyf personeellede wat haar help om die uitrustings te maak. Haar man, Stephan Fouche, is deel van haar onderneming. “My man help my met alles en doen alles waarby ek nie uitkom nie. Ek sou nie so ver gekom het as dit nie vir hom was nie,” sê sy. Jolandie het baie respek vir Suid-Afrikaanse ontwerpers en dink nie hulle hoef vir oorsese ontwerpers terug te staan nie. “Danksy sosiale media is Suid-Afrikaanse ontwerpers ook in voeling met die nuutste modeneigings in die res van die wêreld,” sê sy. Vir Jolandie is dit belangrik om groot te droom. “Ek het nog baie planne. ‘n Mens moet nooit ophou groei nie. Ek het nog altyd daarvan gedroom dat my uitrustings internasionaal bekend sal word.” Hierdie droom van haar is nie té vergesog nie, want sy het onlangs ‘n  kliënt ryker geword in wie se boetiek in Duitsland haar trourokke nou hang.

https://potchefstroomherald.co.za/87598/plaaslike-ontwerper-maak-uitrustings-vir-mej-heelal-kompetisie/  

Related Articles

Back to top button