NewsNews

Sommige vuurwapenlisensie-aansoeke reeds meer as twee jaar agterstallig

Sommige vuurwapenlisensie-aansoeke reeds meer as twee jaar agterstallig

   

Die Vryheidsfront Plus het vandeesweek sy kommer uitgespreek oor die chaotiese en wanordelike toestand by die polisie se sentrale vuurwapenregister waar aansoeke vir vuurwapenlisensies en bevoegdheidsertifikate sloer en feitlik tot ’n stilstand gekom het.

Volgens dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier, is daar al met die instelling van die nuwe vuurwapenwet gewaarsku dat die wetgewing ’n moeilike administratiewe las op die polisie gaan plaas wat nie hanteer sal kan word nie. In die verklaring word gesê dat daar aansoeke is wat volgens die polisie self reeds meer as twee jaar agterstallig is. Die polisie se mikpunt was aanvanklik om binne 90 dae met ’n aansoek te handel. Met die gevolge van die Covid-19-pandemie is dié mikpunt verleng tot 120 dae, maar selfs dit is moeilik haalbaar. Die agterstand van aansoeke vir vuurwapenlisensies is volgens die polisie tans self 250 000. “Aansoeke van vuurwapeneienaars vir lisensies en sertifikate word nie behoorlik geliasseer nie, en soos op foto’s gesien kan word, lê dit op stapels in gange en kantore.” Die VF Plus het sy kommer uitgespreek oor die gebrekkige ruimte vir die groot aantal vorms en die liaseerstelsel wat ver tekort skiet. “Sou enige persoon navraag doen oor sy dokumentasie, sou dit ’n lang en haas onbegonne proses wees om dit op te spoor.” Die probleem word vererger deur die gebou self. Mulder sê dit is onveilig en gebrekkig. Onderhoud is swak, wat ’n veiligheidsrisiko inhou.

Volgens die VF Plus is daar té veel onnodige administratiewe rompslomp rondom lisensiëring. Vuurwapens behoort net een keer gelisensieer te word sonder die vyfjaarlikse hernuwing, sê die party. Dit sluit bevoegdheidsertifikate in. “Daar moet ʼn behoorlike elektroniese stelsel in gebruik geneem word soos by die inkomstediens om verwerking te vergemaklik waar personeel selfs van hul huis kan voortgaan om te werk. Die bestuur is swak en ’n tekort aan personeel vererger die probleem. ’n Verdere oplossing sou wees om die stelsel te privatiseer.” In 2010 het die destydse minister van polisie, Nathi Mthethwa, ’n taakspan saamgestel vir probleme met aansoeke. Aanbevelings is toe reeds gemaak wat nie nagekom is nie. In Maart vanjaar het die adjunkminister van polisie, Cassel Mathale, weer ’n besoek aan die vuurwapenregister gebring en ernstige gebreke in die huidige Polvin-stelsel uitgewys wat daartoe lei dat inligting foutiewelik gelaai word.

“Daar moet nou dringend aandag aan die saak gegee word. Alle vuurwapeneienaars en -handelaars word in die steek gelaat omdat ’n noodsaaklike diens wat aan die publiek gelewer moet word, tans nie gelewer word nie,” sê die VF Plus by monde van sy leier.    

Related Articles

Back to top button