NewsNews

Afrigters en spelers bring hulde aan oorlede NWU rugbykaptein

Afrigters en spelers bring hulde aan oorlede NWU rugbykaptein

Die voormalige NWU Varsitybekerkaptein van 2018, Tiaan Bezuidenhout, is Saterdag, 8 Mei in ‘n motorongeluk oorlede.

“Tiaan het altyd ‘n glimlag gehad- vol selfvertroue, asof niks moeilik of erg was nie. ‘n Kaptein wat almal se ondersteuning gehad het. Hy het gelei deur voorbeeld- ‘n briljante rugbyspeler.”

“Stil broers, daar gaan ‘n man verby, hy groet, en dis verlaas, daar is nog maar een soos hy.”

Hierdie treffende frase uit die digter, Jan FE Cilliers se gedig “Generaal De Wet” is hoe die voormalige NWU Rugbykaptein, Tiaan Bezuidenhout, onthou word.

‘n Besondere mens met ‘n lojaliteit en vriendelikheid enig in sy soort as ook ‘n briljante rugbyspeler en fantastiese kaptein. Bezuidenhout is Saterdag, 8 Mei, in ‘n motorongeluk oorlede toe hy op pad na sy ma in Rustenburg gery het. Bezuidenhout het in Rustenburg grootgeword, by Hoërskool Rustenburg skoolgegaan en het vir ongeveer ses jaar in verskeie NWU en Luiperds-spanne gespeel.

Hy was die kaptein van die NWU se Varsitybekerspan in 2018 en het ook die NWU-Puk 1 na verskeie klubtrofees, naamlik die Pirates Grand Challenge-liga gelei. Kortom was hierdie flank en agtsteman ‘n gerespekteerde speler waarna sy mede spelers opgekyk het.

Hy het ook baie goed oor die weg met sy afrigters gekom en hegte bande gebou. Uit die groot reaksie op sosiale media met die nuus van sy afsterwe, kon ‘n mens agterkom dat hy werklik ‘n groot impak gehad het, waar hy gegaan het.

Die Herald het met sy voormalige spanmaats, vriende en afrigters gesels waar hulle hul herinneringe van Bezuidenhout gedeel het.

Tiaan Bezuidenhout saam met sy spanmaats en boesemvriende Morne Strydom en Walt Steenkamp.

Burger van der Westhuizen (afrigter by NWU-Puk 1)

“Tiaan het altyd ‘n glimlag gehad- vol selfvertroue, asof niks moeilik of erg was nie. ‘n Kaptein wat almal se ondersteuning gehad het. Hy het gelei deur voorbeeld- ‘n briljante rugbyspeler. Met Tiaan was alles 100 persent- geen kortpaaie nie. Hy het nooit baie gepraat nie, veral nie op die veld nie maar as hy gepraat het was dit absoluut sinvol die regte ding op die regte tyd. Hy was “a man amongst men”.

Tiaan was die verpersoonliking van die geykte beskrywing van “stil almal daar gaan ‘n man verby”. Hy was my kaptein van die Young Guns in 2015. My kaptein van Puk 1 in 2017, Varsitybeker kaptein in 2018. Ons het 2 Pirates Grand Challenge bekers saam gewen en die span waarvan hy deel was, was altyd suksesvol. Rugby, die NWU-Puk , en Suid Afrika is armer vandag sonder Tiaan- Hy was ‘n legende.”

Leon Boshoff (afrigter by NWU-Puk)

“Hy was ‘n ongelooflike mens en kaptein. Het my baie laat dink aan André Vos. Nie baie gepraat nie, maar as hy gepraat het was dit ongelooflik met hoeveel gesag en presence hulle geluister het. Die beste Puk kaptein wat ek nog mee gewerk het.”

Mervyn Taylor (Luiperds president en bestuurder van NWU Rugbyinstituut)

“Tiaan was ‘n speler wat deur die stappe gegaan het om by die hoogste posisie kaptein van Varsitybeker uit te kom. Tiaan was suksesvol in sy studies sowel as sy rugby, hy het die Luiperds van junior tot senior verteenwoordig. ‘n Spesiale mens wat ‘n invloed gehad het op almal waarmee hy in aanraking gekom het.”

Walt Steenkamp (spanmaat en vriend)

“Tiaan. So sit ek nou met trane in my oë. Ek het nie woorde nie, die skok is groot vir ons almal. My beste vriend van laerskool af is te vroeg van ons af weggevat. Jy was daar met elke groot oomblik in my lewe. Weet ek dra al ons tye saam in my hart. Van skooldae, Pukke, elke keer wat ons saam op die veld uitgedraf het, Soeties ontgroening tot ons altwee se troues. Ek is lief vir jou my vriend! Ek gaan jou so baie mis! Jy sal altyd my “best man” wees. Rus sag.”

Jonathan Mokuena (Voormalige NWU Varsitybeker afrigter)

“Dit is eintlik onwerklik dat hy moes gaan op so jong ouderdom. Ek het Tiaan in 2017 ontmoet en gesien watter waardes hy het nadat ons op ‘n oefenkamp was. Ek het hom toe aankondig as kaptein vir die 2018 Varsitybeker het ek die trane by sy wange sien afrol. Ek kon sien dit het baie vir hom beteken. ‘n Goeie mens, goeie kind, goeie waardes. Hy, Walt en Poppies (Morne Strydom) was altyd saam al was hulle verskillende tipe karakters. Dit is baie hartseer wat met Tiaan gebeur het.

NWU se amptelike boodskap:

“Dit is met ‘n seer hart dat die NWU sy medelye teenoor Tiaan se familie en vriende wil betuig. Dit is altyd vir ons hartseer om ‘n lid van ons groter NWU-familie te verloor. Tiaan was ‘n merkwaardige mens met ‘n buitengewone karakter. Sy leierskap op- en van die veld af het daarvan gespreek. Hy was ‘n spesiale mens en sy afsterwe gaan ‘n groot leemte in baie se lewens laat.”

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button