NewsNews

Vyf wag al langer as 5 jaar om hul lot te hoor

Vonnis nou eers in September gehoor

Meer as vyf jaar na die aanranding op Tumelo Simon Jubeba en Samuel Tjixa op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip in die Weiveld-distrik, wag die 5 mans wat al in 2019 skuldig bevind is aan die aanranding, steeds om te hoor wat hul vonnis is.

Hofverrigtinge vir die indien van voorvonnis getuienis vir Boeta van der Westhuizen, Anton Loggenberg, Cor Loggenberg, Loedie van der Westhuizen en Miela Jansen van Vuuren,  is vir die vierde keer vandag, Donderdag 6 Mei, in die Hoë Hof in Parys uitgestel, nadat die verrigtinge in Desember 2020, en weer in Januarie en April vanjaar ook uitgestel is.

Regter Corné van Zyl het vanoggend die hofverrigtinge uitgestel na 8 en 9 Julie, waarna vonnisoplegging op 9 September verwag word.  

Van die verdediging en staat se verteenwoordigers in gesprek voor die Parys landdroshof nadat hofverrigtinge weer vandag, Donderdag 6 Mei, uitgestel is.

  Regter van Zyl het gesê dat sy teen Maandag na verwagting die volledige uitspraak aan die staat en verdediging per e-pos beskikbaar sal stel. Sy het gesê dat die laaste redigering van die volledige uitspraak nou bykans voltooi is.

Regter Van Zyl het  in 2019 al vyf die beskuldigdes skuldig bevind aan aanranding, terwyl Loedie van der Westhuizen (jr.) ook skuldig bevind is aan ‘n klag van regsverydeling. Met regter Van Zyl se uitspraak in 2019 is net ‘n verkorte weergawe van die uitspraak in die hof gehoor weens die Covid-19 beperkings wat ook in howe gegeld het, en vanweë die lywigheid van die uitspraak wat sowat 350 bladsye lank is.

Die staat het in sy saak aangevoer dat die beskuldigdes vir Tjixa en Jubeba na bewering sodanig sou aangerand het op 6 Januarie 2016 op die plaas Swartklip  dat hul kort daarna aan hul beserings beswyk het in die Parys en Pelenomi-hospitale onderskeidelik. Tjixa en Jubeba is deur ‘n groep mans aangekeer nadat verskeie boere op die noodroep gereageer het na ‘n plaasaanval op Loedie van der Westhuizen (sr.) op die plaas Biesiesbult.

Dit was uiteindelik die getuienis van ‘n afgetrede patoloog, prof. Jan Botha, wat vir die verdediging getuig het, wat die staat se getuienis op sy kop gedraai het. Regter Van Zyl het in haar verkorte uitspraak verlede jaar gesê prof. Botha se getuienis was onbetwisbaar en was dit wat hy getuig het in skerp kontras met wat deur die 204 getuies in die hof gesê is. Hy het sy getuienis suiwer gebaseer op die nadoodse verslae, foto’s en ander getuienis wat toe reeds voor die hof gehou was.

Dit was uit sy getuienis duidelik dat die oorledenes kon sterf weens onvoldoende mediese hulp en die ernstige beserings wat hul moontlik kon opdoen in hul reeds beseerde toestand toe hulle oor ruwe terrein van die plaas Swartklip met ‘n polisievangwa vervoer is om die ambulans langs die pad te ontmoet wat hulle verder sou vervoer.    

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button