As dit kom by kreatiwiteit en vaardigheid met naaldwerk, in die kombuis, skilderkuns, fotografie of selfs skryfwerk, staan Parys se vroue kop en skouers uit. Lede van die Parys Vroue Landbou Unie-tak (VLU) het nie minder nie as 14 spog inskrywings by vanjaar se VLU-konferensie in Koppies gehad. Artikels is ingestuur vir borduurwerk, hekelwerk, masjienwerk, borduurmasjienwerk, handvlyt, preservering, gebak, fotografie, skryfkuns, skilderkuns en blomme. Uit die Parys-vroue se inskrywings het drie deurgedring na die VLU-kongres in Bloemfontein.
Hierby was ingesluit ‘n teenet vir die Borduurmasjien-afdeling, “Foto deur ‘n venster” in die afdeling vir Fotografie, en skilderkuns.
Skitterende uitslae is behaal deur Annatjie Dreyer wat 90% en ‘n 1ste plek behaal het met haar geborduurde teenet, Bernadet van der Ende wat ‘n tweede plek behaal het met 84% vir haar smaaklike Sweedse teering en Thea Guillaume wat bewys het dat sy ‘n oog vir ‘n mooi foto het met haar “Foto deur ‘n venster” wat met 82% ’n derde plek behaal het.
Annatjie en Bernadet het ook by die geleentheid hul 30 jaar dienswapens ontvang vir hul jarelange betrokkenheid by die VLU. Die VLU se volgende vergadering is op 4 Mei. Gaste is baie welkom en kan navraag doen by Annatjie by 082 464 0204, of Bernadet by 082 474 0304. Gaste wat graag die oggend wil bywoon moet asseblief vooraf net bevestig om plek te verseker.