News

Dispute met munisipaliteite: Werd om te weet

      “Baie verbruikers verklaar dispute met die munisipaliteit oor ‘foutiewe’ munisipale rekeninge, maar nie almal verstaan hoe die proses werk nie. Gevolglik lei dit tot verwarring en skep soms meer probleme as wat dit oplos.” So het Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe, aan Gazette gesê. Die uitgangspunt is, volgens hom, dat …

     

“Baie verbruikers verklaar dispute met die munisipaliteit oor ‘foutiewe’ munisipale rekeninge, maar nie almal verstaan hoe die proses werk nie. Gevolglik lei dit tot verwarring en skep soms meer probleme as wat dit oplos.” So het Vryheidsfront Plus raadslid, Phillip van der Merwe, aan Gazette gesê. Die uitgangspunt is, volgens hom, dat daar ‘n regsplig op munisipaliteite rus om dienste wat gemeet moet word, gereeld te meet, en om op gereelde basis korrekte rekeninge aan verbruikers te verskaf. In praktyk is daar egter twee faktore wat dit bemoeilik.

Eerstens persele wat tot so ‘n mate beveilig is dat toegang tot meters om lesings te neem, basies onmoontlik is. Tweedens dat posdienste so verval het dat weinig vertroue daarin geplaas kan word dat ‘n rekening per pos versend, wel sy bestemming sal bereik. Beide faktore val buite die munisipaliteit se direkte beheer, maar verbruikers kan help deur maandeliks hul eie lesings te neem en aan die munisipaliteit deur te gee sodat dit op die rekeningstelsel ingevoer kan word. Die inligting kan by munisipale kantore ingehandig word of per e-pos gestuur word aan billing@ngwathe.co.za. Verbruikers wat oor e-pos fasiliteite beskik kan ook by dieselfde adres versoek dat rekeninge aan hulle per e-pos gestuur word. Rdl. Van der Merwe waarsku verbruikers dat dit nie ‘n regsgeldige verskoning van betaling is as ‘n rekening nie ontvang word nie. Daar rus ook ‘n plig op ‘n verbruiker om navraag te doen wanneer ‘n rekening nie ontvang word nie. As ‘n verbruiker nie saamstem met heffings op ‘n rekening nie, kan ‘n dispuut met die munisipaliteit verklaar word. ‘n Voorgeskrewe vorm vir die doel is by munisipale kantore beskikbaar.  

Verbruikers behoort die volgende in gedagte te hou, sê rdl Van der Merwe:

1.“’n Dispuut moet verklaar word teen ‘n spesifieke heffing of heffings op die betrokke rekening. Byvoorbeeld waterverbruik word gehef op ‘n verbruik van 23 kiloliter, maar volgens die verbruiker se eie rekords was slegs 13 kiloliter water gebruik.

2. Die dispuut kan en moet dan slegs verklaar word vir die betwiste 10 kiloliter waterverbruik. Die 13 kiloliter verbruik wat nie betwis word nie, moet steeds betaal word, asook die gehele res van die (onbetwiste) rekening. Dit is nie regtens geregverdig om betaling van die totale rekening in die geval van die voorbeeld te weerhou omdat die waterheffing daarop moontlik foutief is nie.

3. Die Munisipale Stelselswet verbied die toepassing van kredietbeheermaatreëls ten opsigte van bedrae wat deur ‘n verbruiker in dispuut geplaas is. Dit moet egter duidelik verstaan word dat die Wet slegs invorderingstappe (wat staking van dienste mag insluit) verhoed vir die verhaling van bedrae fisies in dispuut. In die voorbeeld hierbo, en sou die verbruiker byvoorbeeld die totale rekening nie betaal nie, kan stappe geneem word om die onbetwiste skuld (dit wil sê alles behalwe die 10 kiloliter waterverbruik wat betwis word) te verhaal, en kan die dienste aan die verbruiker wettiglik gestaak word deur toepassing van kredietbeheermaatreëls.

4. ‘n Ander mite waaronder baie verbruikers blykbaar verkeer, is dat hulle kragtoevoer nie gestaak kan word solank hulle hul elektrisiteitsverbruik gereeld betaal nie. Die howe het lank gelede reeds bevind dat ‘n munisipale rekening ‘n saamgestelde rekening is, en dat betaling van sekere gedeeltes (waar ‘n dispuut nie hangende is nie) nie prakties moontlik is nie. ‘n Verbruiker wat ‘n rekening ontvang waarop erfbelasting, rioolgelde, vullisverwyderingsgelde, waterheffings en elektrisiteitsheffings verskyn, kan gevolglik nie ‘n betaling daarop doen en aandring dat dit teen die elektrisiteitsheffing aangewend moet word nie.

Kragtoevoer aan ‘n verbruiker kan wettiglik gestaak word as enige gedeelte van die saamgestelde rekening onbetaald is. Volgens rdl. Van der Merwe het die Munisipale Raad onlangs ‘n formele proses met tydlyne goedgekeur vir hantering van dispute. Die verloop van die proses blyk uit die inhoud van die dispuutvorm.

Verbruikers wat geldige dispute het word versoek om die vorm by die munisipale kantore aan te vra en te gebruik om te verseker dat hul dispute korrek verklaar en hanteer word.    

Related Articles

Back to top button