News

Solidariteit begin regsproses oor wettigheid van Kubaanse ingenieurs

Solidariteit begin regsproses oor wettigheid van Kubaanse ingenieurs

Solidariteit het vandag met ʼn regsproses teen die Minister van Menslike Nedersettings, Water en Sanitasie, Lindiwe Sisulu, begin oor die invoer van Kubaanse ingenieurs vir water-infrastruktuurprojekte in Suid-Afrika.

In die regsbrief vra Solidariteit dat die Kubaanse ingenieursprogram onmiddellik opgeskort word en dat sekerheid verskaf moet word oor die wettigheid van die Kubane se lisensiëring en registrasie.

“Dit blyk dat die besluit van die Minister om Kubaanse ingenieurs in te voer nie net dwaas en immoreel is nie, maar ook onregmatig. Op gesigwaarde blyk hierdie ingenieurs nie te voldoen aan die registrasievereistes van die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese (ECSA) wat hulle in staat sou stel om ten volle te kan praktiseer nie.

“Dit sal beteken dat die groep geweldig baie geld betaal word, maar dat hulle beperk sal wees ten opsigte van die werk wat hulle mag doen, en dat hulle in sekere gevalle slegs onder toesig sal mag werk. Ons gee die regering nou die geleentheid om te verduidelik. Suid-Afrika verdien ʼn antwoord,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit.

Volgens Solidariteit se skrywe is daar groot kommer rakende die wettigheid van die Kubaanse ingenieurs en spesifiek of hulle geregistreer en gelisensieer is ingevolge die Wet op die Ingenieursweseprofessie van 2000.

Solidariteit vra ook, onder andere, dat die regering moet bevestig of alle wetlike vereistes in plek is vir die Kubaanse ingenieurs om in Suid-Afrika te kan werk.

In sy skrywe vra Solidariteit verder of die advies en die aanbevelings van ECSA ingewin is en of daar aan al die vereistes van die raamwerk van die professie voldoen is. Hy vra ook dat alle inligting rakende die regsbasis van die besluit geopenbaar word.

Die invoer van die Kubane vloei klaarblyklik uit ʼn bilaterale ooreenkoms tussen Suid-Afrika en Kuba wat in 2014 onderteken is.

Die Minister het tot Vrydag 30 April om te antwoord, waarna die inhoud van hierdie antwoord sal bepaal of Solidariteit ʼn aansoek vir ʼn interdik teen die Minister sal beteken.

Solidariteit se regsbrief volg nadat ECSA in ʼn skrywe geïmpliseer het dat die Kubaanse ingenieurs nie aan die registrasievereistes voldoen nie.

Die skrywe bevestig dat die Kubaanse ingenieurs aan die registrasieraamwerk van ECSA moet voldoen, en dit is onder die minister se aandag gebring dat Kuba nie lid van die Internasionale Ingenieursalliansie (IEA) is nie.

Solidariteit beplan om ook met die Suid-Afrikaanse Raad vir Ingenieurswese te kommunikeer.

“Die vraag oor of die Kubaanse ingenieurs aan die nodige wetlike vereistes voldoen, is verswarend, maar dit bepaal steeds nie of dit reg is dat hulle hier is nie. Solidariteit het ʼn lys van 132 plaaslike ingenieurs en ander spesialisvaardighede aan die Minister beskikbaar gestel wat die werk teen ʼn baie laer koste as die Kubane kan doen. Daarbenewens is Kuba se eie water-infrastruktuur in chaos. Daar is dus geen rede waarom die Kubane in Suid-Afrika moet wees nie,” sluit Hermann af.

 

https://vaalweekblad.com/92828/solidariteit-begin-regsproses-oor-wettigheid-van-kubaanse-ingenieurs/

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button