NewsNews

Ray Dylan sing oor boere se verlang in die buiteland

Ray Dylan sing oor boere se verlang in die buiteland

 

Een van sy vriende se ervarings in die buiteland en die verlange wat Suid-Afrikaanse boere het na hul huis wanneer hulle in ander lande werk, was die inspirasie vir Ray Dylan se jongste treffer, “By jou voete lê” wat verlede week vrygestel is.

Bewonderaars wat al lank uitsien na ’n lekker Ray Dylan-treffer van ouds, kan beslis naderskuif want hierdie splinternuwe enkelsnit bewys weer hoekom hy as die kroonprins en kitaarkoning van Afrikaanse sokkie beskou word. Ray het die voetjeuklekker-popsnit, in grendeltyd saam met Piet Farrell geskryf. “Ek het gevoel dat ek na veertien jaar vir my mark en ondersteuners moet wys dat ek steeds by my klank en musiekstyl hou,” verduidelik die 42-jarige ster van Vredefort “Dit is belangrik om jou aanhangers te ken en te weet wat hulle verwagting is. Ek is seker daarvan dat ek hulle nie gaan teleurstel met my nuutste vrystelling nie.

‘By jou voete lê’ is een van daardie liedjies wat die dansvloer gaan laat gons.” Dié opwindende nuwe lied word gekomplementeer deur ’n ewe indrukwekkende musiekvideo, wat in Parys verfilm en deur Wian van der Walt van Vonk vervaardig is. Dit vertel die verhaal van ’n paartjie wat al lank bymekaar is en die man se terugflitse van goeie herinneringe van hul tye saam.

“Ons wissel tussen optredeskote en terugflitse van die paartjie wat saam iets lekker doen, soos piekniekhou of bootry,” verklap Wian. “Ek het dit die meeste geniet om die boot- en motorfietstonele te skiet, omdat dit ’n vars en dinamiese element tot die video voeg.”

’By jou voete lê’ volg in die suksesvolle voetspore van Ray se vorige treffer, ‘Torrabaai’, wat in 2020 vrygestel en goed ontvang is. Ray Dylan is al versot op musiek vandat hy ’n tjokkertjie is en het op 3-jarige ouderdom begin kitaar speel. Hy was 12 toe hy saam met Bles Bridges begin toer en optree het, en het oor die afgelope 33 jaar nog nooit getwyfel oor wat hy met sy lewe wil doen nie. Hierdie SAMA-bekroonde musikant het oor die jare verskeie goue- en dubbelplatinumstatus-albums en -liedjies uitgereik en is veral bekend vir treffers soos Hokaai Stoppie Lorrie, Dis Verby, Jessica, Hier binne klop ’n Boerehart, Angel-face, You’re My Everything, Vir Ewig Jonk, Uitbasuin, Hier Teen Jou Lyf en meer.

Ray beskou die geleentheid om deel te kon wees van groot konserte soos Skouspel en Krone, en om in die buiteland te kon optree, as van die grootste hoogtepunte van sy loopbaan sover. Hy werk tans aan ‘n splinternuwe album waarmee hy binnekort wil gaan toer en sien uit daarna om in die nabye toekoms saam met Juanita du Plessis te werk.  

Related Articles

Back to top button