News

Man glo Kruger-miljoene is onder huis begrawe

Man glo Kruger-miljoene is onder huis begrawe

 

‘n Inwoner van Meyerton is vas oortuig dat die verlore Kruger-miljoene onder ‘n huis in Meyertonstraat buite die dorp versteek is.

 

*Die storie het die eerste keer in Vaalweekblad van 14 April verskyn. MEYERTON. – Nicolaas Fouché, ’n sekuriteitswag, is só vas oortuig dat die skat onder die huis versteek is wat hy help om op te pas, dat hy begin het om diep gate in die erf te grawe.

 

  Die Kruger-miljoene of Kruger-ponde verwys na ‘n skat wat na bewering teen die einde van die Tweede Vryheidsoorlog (tussen die jare 1899 en 1902) in opdrag van pres. Paul Kruger versteek is sodat die Britte dit nie in die hande kon kry nie.

 
Die Kruger-miljoene is blykbaar aan die einde van die Tweede Vryheidsoorlog versteek.

Baie mense het al na die Kruger-ponde gesoek maar sonder welslae. Besonderhede oor die grootte van die skat verskil aansienlik.

 

Die waarde van ‘n enkele goue Paul Kruger-pond word op sowat ZAR 7 000 000 geraam. Fouché vertel: “Ek is betrokke by die huis as ‘n sekuriteitswag. Ek pas die huis op vir ‘n  vrou wat hier bly nadat hulle by haar ingebreek en al haar goed gesteel het. “Ek is al oor die tien maande hier,” vertel hy.

Nicolaas Fouché, ’n sekuriteitswag van Meyerton. Foto: Christiaan Cloete

Volgens Fouché het ‘n “geestesstem” op die tweede dag wat hy by die huis begin werk het, met hom gepraat en hom aangesê om na die kombuis te gaan. Toe Fouché op die kombuisvloer staan het hy met sy krukke teen die vloer geslaan en toe ontdek dat dit hol is. Van daardie dag af is Fouché vas oortuig dat die verlore Kruger-miljoene onder die huis is.

Nicolaas Fouché glo daar is ‘n holte onder die vloer van die kombuis. Foto: Christiaan Cloete

Hy het reeds begin om diep gate in die erf te grawe by plekke wat hy vermoed hol is. “Die Kruger-ponde was vanaf Johannesburg na Vereeniging op pad toe dit weggeraak het. Mense het al by die fort (die Blokhuis langs die R59) daarvoor gesoek, maar ek glo dit is hier, onder hierdie huis.” “As jy ‘n skelm is gaan jy mos die skat wegsteek by ‘n plek waar mense dit nie kan kry nie, of hoe?” meen hy. Volgens Fouché is die huis 20 jaar voordat die Kruger-ponde vermis geraak het, gebou. Hy het by navraag erken dat die eienaar van die huis nie weet waarmee hy besig is nie. Volgens Fouché is die man, wat in Soweto woon, glo siek en wil hy hom nie ontstel nie. Fouché, wat met krukke rondloop nadat hy as kind polio gehad het, sê dit is weens sy toestand vir hom moeilik om fisiese arbeid te doen soos gate grawe.

Die gat wat Nicolaas Fouché gegrawe het in sy soektog na die Kruger-ponde. Foto: Christiaan Cloete

Hy benodig iemand om hom te help om gate te grawe op die plekke wat hy meen daar “holtes” onder die grond is. “Ek soek iemand om my te help. Nie iemand wat my besteel nie,” het hy benadruk. Gevra wat hy met die Kruger-miljoene sal maak as hy dit wel kry, vertel Fouché: “Dit behoort aan die goewerment, dit is hoe ek daaroor voel.” “As hulle vir my sê ‘Okei, hier is vir jou R10 vir jou moeite’ dan sal ek dit so aanvaar. “Ek is nie ‘n man wat steel nie. Ek is te oud om tronk toe te gaan … of te gebreklik om tronk toe te gaan, om dit so te stel,” sê hy.

 
https://vaalweekblad.com/92218/man-glo-kruger-miljoene-is-onder-huis-begrawe/

 

Related Articles

Back to top button