NewsNews

Die Afrikaanse taaldebat by US – alles wat jy moet weet

Die Afrikaanse taaldebat by US – alles wat jy moet weet

In dié artikel van afrikaans.com gee Annelie van Jaarsveldt ‘n goeie samevatting van die taalregte van Afrikaanssprekende studente op Suid-Afrikaanse kampusse, praat sy van Afrikaans as net een van vier tale wat in die eerste agt dekades van die 20ste eeu van ’n spreektaal tot ’n hoogkultuurtaal ontwikkel het en gee sy verslag van die DAK-netwerk se protesaksie waarin geëis word dat Afrikaans steeds as volwaardige akademiese taal by die Universiteit van Stellenbosh aangewend word.

 
Skrywer: Annelie van Jaarsveldt
 
“Jean Laponce, ’n Frans-Kanadese taalkundige, beskou Afrikaans as net een van vier tale (die ander is Hindi, Hebreeus en Maleis-Indonesies) wat in die eerste agt dekades van die 20ste eeu van ’n spreektaal tot ’n hoogkultuurtaal ontwikkel het.”

’n Oorsig

Die afgelope paar weke is die  taalregte van Afrikaanssprekende studente op Suid-Afrikaanse kampusse weer kwaai getroef en het gevoelens hoog geloop – trouens, die kwessie van taalbeleid is nog lank nie verby nie. Dit blyk steeds dat die gevoelens en vooroordele van nie-Afrikaanssprekendes voorkeur geniet.

 
Prof Hermann Giliomee sê in die verband in ’n artikel op Netwerk24 dat die Universiteit Stellenbosch op pad is na kultuurloosheid en dat kultuuroordrag aan die US in gevaar is. Gaan lees ’n mens meer hieroor, blyk dit dat die stand van sake al ’n geruime tyd aan die kom is en word daar verskillende redes daarvoor aangevoer, onder andere dat toekennings t.o.v. befondsing op grond van internasionale norme gemaak word, en dat “die nuwe geslag na 1994 nie weet hoe om sosiale netwerke en sosiale kapitaal ten behoewe van hul gemeenskappe en hul taal te mobiliseer nie”. Ook met die onderhandelinge tussen die NP-regering en die ANC in die vroeë 90’s, het die voertaal in universiteite en skole nie werklik aandag geniet nie en het dit “geblyk dat die ANC onverdraagsaam teenoor Afrikaans was” – aldus Piet Marais, destydse minister van onderwys.
 
Ons lees ook dat die US in 2006 ’n voertaalbeleid ondersteun het waar Engels en Afrikaans tot die finale voorgraadse jaar in die klas gepraat word. Hierop het Laponce soos volg gereageer: “It confirms what I resisted to believe … the system is to the eventual advantage of English, Afrikaans being retained as a mere decoration.” Die Konstitusionele Hof-uitspraak tussen Gelyke Kanse en die Universiteit Stellenbosch in 2019 rakende die reg tot onderrig in Suid-Afrikaanse inheemse tale op tersiêre vlak se beslissing ten gunste van die US se taalbeleid was verreikend en is die reg van Afrikaanssprekendes om in hulle moedertaal onderrig te word in die weegskaal geplaas.
 
Danie van Wyk van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust en voorsitter van die DAK Netwerk, het destyds gesê dat Afrikaans, maar ook meertaligheid, “’n gevoelige slag toegedien is”. Na aanleiding van die huidige debat sê Van Wyk: “Die verbod op Afrikaanse studente om in Afrikaans te kommunikeer en om onderrig in hul moedertaal te ontvang, is ’n subtiele vorm van ont-taling.”
 
“Die toekoms van Afrikaans is in sy sprekers se hande.” – prof. Michael le Cordeur
Prof Michael le Cordeur sê destyds oor die KH-uitspraak:  “Pleks van in sak en as te gaan sit, het diegene wat Afrikaans ter wille is, nou die geleentheid om die daad by die woord te voeg.” In ’n meningstuk wys hy ook op die geleenthede wat daar is om die handhawing van Afrikaans as medium van onderrig en bevordering van Afrikaans as wetenskaps- en beroepstaal binne ’n meertalige gemeenskap, te bewerkstellig. Trouens, le Cordeur beskou die toekoms van Afrikaans as rooskleurig. Hy sê verder dat die toepassing van die taalbeleid in die sprekers se hande is. “Studente moet die moed hê om hul pond vleis op te eis en dosente moet weet dat dit baie ekstra werk gaan verg. Die beleid sal val of staan by die mate waartoe die reëls van die beleid nagekom word al dan nie.”
 
26 Maart 2021: ‘n Formele klag teen die universiteitsbestuur is intussen by die Menseregtekommissie ingedien. Die klagte berus op die Handves van Menseregte in die Grondwet wat daarvoor voorsiening maak dat geen taalgemeenskap ontsê mag word om hul taal te gebruik nie.
 
Maar nog is dit het einde niet!
“Wat het geword van inklusiwiteit waartoe ons onsself verbind het? Is eentaligheid nou ons voorland? Of is daar perke. Wanneer praat ons van diversiteit?” – Dr Mvula Yoyo, voormalige Matie-dosent in Afrikaans en lid van die universiteitsraad in ’n artikel op Netwerk24.
 
En om sout in die wonde te vryf, lees ons op Netwerk24 dat die Universiteit Stellenbosch nou ’n nuwe konsepbeleid vir kommentaar op hulle webtuiste gepubliseer het waarvolgens Afrikaans nie meer as ’n “inheemse taal” beskou word nie en dat Art. 7.1.11.2 van die universiteit se 2016-taalbeleid, naamlik dat Afrikaans en Engels die US se leer- en onderrigtale is, aangepas word. Dit volg op ’n voorstel deur dosente dat hulle weens die gevolge van die covid-19-pandemie nie die eerste semester nog met die vertaling van lesmateriaal in Afrikaans wil opgesaal word nie.
 
Daar is uit verskeie oorde sterk op hierdie verwikkelinge gereageer en die gevoel is dat dit nie by ’n sogenaamde “tydelike” besluit sal bly nie en dat protesoptrede nou die enigste uitweg is om druk op die bestuur van US oor sy taalbeleid uit te voer. Dr Willa Boezak voel ook dat dit veral die arm, plattelandse Afrikaanse student is wat benadeel sal word.
 
Danie van Wyk, voorsitter van die DAK Netwerk, meen ook dat dit nie net gaan oor “die voortbestaan van Afrikaans op universiteit nie, maar ook oor die gebruik van Afrikaans in ons skole, in ons howe en in die staatsdiens.” Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum het bygevoeg dat Engelse onderrig aan studente opgedis word as ’n kortpad na sukses, afgesien van die legio bewyse van die akademiese, sielkundige en ekonomiese voordele van moedertaalonderrig. Bailey sê ook daar “net lippetaal aan veeltaligheid bewys word.” ’n Mondvol inderdaad en ’n debat wat nog lank gaan voortduur met natuurlik ’n goeie skeut uitsprake en menings van doemprofete daarby!
 
Maar … lees verder en vier opnuut Afrikaans en sy sprekers saam met ons!
“Afrikaans is ’n loslittaal; ’n lenige en soepel taal waarin jy jouself kan uitdruk en dinge kan sê soos wat in geen ander taal moontlik is nie. En terwyl elke taal in mindere of meerdere mate sulke unieke uitdrukkingsvermoë besit, is daar nie nog een wat dit kan doen soos in Afrikaans nie.” – Dr Christo Viljoen, 2015 Afrikaans.com neem kennis van die huidige stand van sake oor die taalbeleid, gebrek aan kultuuroordrag en die aanslag op Afrikaans en ons hou die situasie dop, maar as deel van ons mandaat fokus ons op die positiewe van die taal en sy sprekers en vier ons dit in al sy vorme. Daarom hou ons rekening met Afrikaans se verskillende dialekte of variante en omarm ons elkeen.  Ons vier ook Afrikaans as ’n volwaardige en ontwikkelde wetenskap- en akademiese taal  – die talle Afrikaanse vakwoordeboeke is ’n klinkklare bewys daarvan.

Afrikaans lewer ’n belangrike bydrae tot gehalte-onderrig

Die inisiatiewe rondom die stigting van private Afrikaanse tersiêre instellings en organisasies, soos byvoorbeeld Akademia, Sol-Tech, Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS), die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON) en MOS (Moedertaal in Onafhanklike Skole) is ’n bewys dat die Afrikaanse tersiêre sektor steeds uitbrei en leerders en studente in lyn met internasionale standaarde vir die toekoms toegerus word.

 

Sukses deur Afrikaans

Die bevordering van moedertaalonderrig en die voordele wat dit inhou, lê ons na aan die hart en ons sal nie ophou om bewusmaking hieroor te skep nie. Vir ons is moedertaalonderrig ononderhandelbaar. Kyk ’n mens maar net om jou is daar soveel bewyse hiervan. Afrikaanssprekendes wat oor die jare op etlike gebiede sukses behaal het – in en deur Afrikaans. Ekonome, wetenskaplikes, vakkundiges, skrywers,  akteurs, musikante, sportlui en akademici – noem maar op … mense wat skouers skuur met hulle buitelandse eweknieë en hoog aangeskryf word. Om maar net enkeles uit ’n ellelange lys te noem – van hulle reeds oorlede: Japie van Zyl – een van die voorste NASA-ruimtewetenskaplikes en dryfveer agter etlike ruimteprojekte. Die hartchirurg dr Chris Barnard wat die wêreld se eerste mens-tot-mens hartoorplanting gedoen het. Die digter Adam Small wat ’n onmisbare nalatenskap aan Afrikaans nagelaat het. Die menseregteaktivis en bekende kampvegter vir Afrikaans, Danny Titus. En dan ook mense soos die akteur Arnold Vosloo wat groot naam as akteur in Amerika maak, die Olimpiese wêreldrekordhoueratleet Wayde van Niekerk, die skrywer Deon Meyer … en so meer. Almal verskilmakers uit eie reg.

“Afrikaans gaan nêrens”

Die skrywer Gaireyha Fredericks en die digter Lynthia Julius is maar twee Afrikaanssprekendes wat ’n passie vir Afrikaans en alles wat die taal kan bereik, het. Sê Fredericks: “As long as wat daa activists bestaan wat al die variasies van Afrikaans koester, sal Afrikaans se toekoms rooskleurig bly … wat ek wel versiekke wiet, is dat daar ’n verniewing van waardeering vir moedertong broei en oppie ground-level baie wêk gedoen wôd ommat die realization van validation nou ees rerag by Djan Alleman gedawn het.” Na aanleiding van die jongste debat oor Afrikaans in universiteite, vertel Julius in ’n meningstuk op LitNET hoe woedend sy en haar suster destyds tussen die taaldebatte by Kovsies was. Hoe hulle heeltyd moes hoor hulle praat die taal van die onderdrukker – nie dat dit haar gestuit het nie. Maar sy sê ook dat sy nie meer kwaad is oor Afrikaans by universiteite nie, want “die waarheid is, Afrikaans gaan nêrens. Vat daai mense wat ’n taal op ander afdwing aan en moenie laat hulle maklik van dit af loskom nie … Ons het g’n rede om bekommerd te wees nie. Ons praat die taal, ons skryf in hom, hou feeste in hom … dit gaan nie oor die oorlewing van Afrikaans nie, want môre koop ons nog steeds Afrikaanse koerante … luister ek steeds Gert Vlok Nel … bid iemand steeds die Onse Vader in Afrikaans … ek kan jou belowe: Môre-aand om die braaivleisvuur praat Afrikaanssprekendes nie Engels nie en die gedigte wat ek die naweek gaan skryf, sal nie in Engels wees nie.”

 
 
“Ek is ’n bruin Afrikaanse man. Die grootste aantal mense wat Afrikaans praat, is bruin mense. Afrikaans word altyd die taal van die onderdrukker genoem. Ek en my ma was nooit onderdrukkers nie. Die taal is nie die onderdrukker nie. Die taal is verpolitiseer en moet gedepolitiseer word sodat dit weer gesien kan word as die taal van die mense.” – Danie van Wyk, voorsitter DAK Netwerk (op Netwerk24) Inderdaad!
 
Afrikaans is hier om te bly. Doen jouself ’n guns wanneer jy weer tussen ’n groot klomp mense is en luister wat sê hulle … hoe klink hulle. Hulle praat nie noodwendig Standaardafrikaans nie en dalk ook nie jóú Afrikaans nie, maar juis daarom weet ons dat Afrikaans steeds groei, aanpas en floreer in die mond van sy sprekers. Kom ons vier dit en hou nooit ophou skryf en praat aan die toekoms van Afrikaans nie. Dis in ons hande!
 

So staan sake teen 9 April 2021

Protesaksie: Griefskrif aan bestuur van die Universiteit Stellenbosch oorhandig Op Vrydag, 9 April, het die DAK Netwerk, onder leiding van hulle voorsitter, Danie van Wyk, ‘n protesoptog in Stellenbosch gehou waartydens hulle ’n griefskrif aan die bestuur van Universiteit Stellenbosch oorhandig het. Die griefskrif, waarin geëis word dat Afrikaans steeds as volwaardige akademiese taal by die US aangewend word, is ook simbolies aan die deur van die universiteit se hoofgebou “gespyker” – net soos Martin Luther in 1517 in Wittenberg gedoen het.

 
Griefskrif: Sewe eise
Die griefskrif is saamgestel deur die voorsitter van DAK, Danie van Wyk, en die sekretaris, Willem Fransman Jr, namens die direksie van die DAK Netwerk. Kortliks word die volgende geëis:

  • Erkenning van Afrikaans as inheemse taal.
  • Dat Afrikaans as ’n volwaardige akademiese taal by US sal bly voortbestaan.
  • Dat die US ’n daadwerklike poging aanwend om ’n bastion vir meertaligheid te word en ’n weerspieëling van die Wes-Kaapse taaldemografie te weergee.
  • Dat Afrikaanssprekende studente die geleentheid gegun moet word om ten minste ’n eerste kwalifikasie in Afrikaans te behaal.
  • ’n Onvoorwaardelike verskoning van die US vir die vernedering wat nie-wit studente in die verlede ervaar het en wat nou met die hersiene taalbeleid weer hul menseregte in gedrang bring.
  • Om met groot omsigtigheid met studiegeld om te gaan. Baie van die studente is eerstegeslag-universiteitstudente wat uit ’n Afrikaanse plattelandse agtergrond kom en wat hulself wil bemagtig. Taal moet hulle nie benadeel nie, maar ’n bemagtigingsinstrument wees.
  • Dat die kultuur van robuuste debatvoering weer sy regmatige plek op die US-kampus moet inneem. Bron: https://www.litnet.co.za/griefskrif-met-sewe-eise-vir-afrikaans-aan-us-oorhandig/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button