NewsNews

Nywerheidsreus se R90 miljoen uitbreiding ‘n aanwins vir Vaal

Nywerheidsreus se R90 miljoen uitbreiding ‘n aanwins vir Vaal

 

MAN Energy Solutions South Africa (Pty) Ltd skuif hul hoofkantoor en werkswinkels na Vanderbijlpark.

 

VANDERBIJLPARK. – MAN Energy Solutions South Africa (Pty) Ltd is besig om hul hoofkantoor, lemvervaardiging en dienste-werkswinkel na die dorp te verskuif. ELCA Engineering is reeds in 2014 deur MAN Energy Solutions oorgekoop, maar daar is eers in 2019 besluit om die afsonderlike fasiliteite te integreer.

 

Die eerste fase van die projek van sowat R90 miljoen is einde Februarie vanjaar afgehandel. Die tweede fase, wat die finale verskuiwing van administratiewe personeel insluit, behoort teen einde Augustus voltooi te wees. Daar is reeds met die aanbou van die nuwe lemvervaardiging-werkswinkel begin. Die nuwe dienste-werkswinkel beslaan 5 000m² onder dak en onder kraan. Dit is die grootste turbo-werkswinkel in Afrika.

 
 
Die binnekant van die nuwe dienste-werkswinkel.

ELCA Engineering is ‘n gevestigde naam in die gebied en die naam word behou saam met die van MAN Engery Solutions by die nuwe ingang in CE6. MAN Energy Solutions se besturende direkteur: Sub-Sahara Afrika, Chris Meyer, het gesê die integrasie van die twee fasiliteite is tot voordeel van almal, aangesien van hul grootste kliënte in hierdie gebied is. “Dit is ‘n tyd van groot geleentheid en verandering vir ons. Ons is baie dankbaar om te midde van die Covid-19 pandemie nog te kan uitbrei. Daar is sowat 100 personeellede wat teen die einde van fase 2 in Vanderbijlpark gaan begin werk.” Hoewel van die mense elke dag moet pendel, het Meyer besluit om na die Vaaldriehoek te verhuis. “Ek sien uit om in Vanderbijlpark te woon,” het hy gesê. “Na dese gaan ons groot gemeenskapsprojekte na die groter Sedibeng-gebied verskuif. Ons gaan regtig kyk waar ons kan help.” ELCA Engineering was nog altyd by die gemeenskap betrokke. Een voorbeeld hiervan is die stuk veld oorkant die fabriek. Volgens Meyer het mense dit vir ‘n stortingsterrein begin gebruik. ELCA se operasionele bestuurder, Russell Broodryk, het ingegryp en die veld is skoongemaak.

Chris Meyer sê die gemeenskap stuur nou gereeld foto’s om te wys hoe lekker die kinders in die park speel vandat dit deur ELCA Engineering onderhou word

Hulle was aangenaam verras toe gemeenskapslede ook spontaan begin help het om die park skoon te hou. “Ek kry nou gereeld foto’s van die gemeenskap waar die kinders in die park speel. Ons het ook nou sokkerpale daar opgerig tot groot vreugde van al die sokkerspelers in die omgewing.”

 
 
https://vaalweekblad.com/91781/nywerheidsreus-se-r90-miljoen-uitbreiding-n-aanwins-vir-vaal/

 

Related Articles

Back to top button