NewsNews

Plakkers by Mooibank raak slaags met inwoners

Onwettige plakkers in die Mooibank-area het Vrydag, 9 April slaags geraak met belanghebbendes wat teen die Mooibank dorpsontwikkeling gekant is. Onwettige plakkers in die Mooibank-area het Vrydag, 9 April slaags geraak met belanghebbendes wat teen die Mooibank dorpsontwikkeling gekant is. Die belanghebbendes het Vrydagoggend ‘n gazebo met tafels by die T-aansluiting van die Mooibankpad en …

Onwettige plakkers in die Mooibank-area het Vrydag, 9 April slaags geraak met belanghebbendes wat teen die Mooibank dorpsontwikkeling gekant is.

Onwettige plakkers in die Mooibank-area het Vrydag, 9 April slaags geraak met belanghebbendes wat teen die Mooibank dorpsontwikkeling gekant is.

Die belanghebbendes het Vrydagoggend ‘n gazebo met tafels by die T-aansluiting van die Mooibankpad en Kruisstraat (naby die Abraham Kriel Kinderhuis) opgeslaan. Hul doel wasom registrasievorms van die maatskappy, Taktho Environmental Strategy, aan inwoners van die Mooibank-omgewing uit te deel.

Die stalletjie waar registrasievorms uitgedeel is. Dit is later deur die plakkers venietig. Foto: Verskaf

Taktho is die maatskappy wat die beplande omgewingsimpakstudie doen voordat die Mooibank dorpsontwikkeling goedgekeur kan word. Inwoners wat deur die beplande dorpsontwikkeling geaffekteer word, kan met dié vorms registreer om kommentaar te lewer en indien hulle teen die ontwikkeling gekant is, kan hulle hul kommer hier uitspreek.

Morné de Villiers wat Vrydag die vorms uitgedeel het, sê ‘n groep van sowat 20 plakkers het by die stalletjie opgedaag. “Hulle het die gazebo gebreek, die vorms opgeskeur, die tafels omgegooi en ons gevloek en geskel. Een van hulle het geskree: ‘Julle moet teruggaan Holland toe!’”

Maandagoggend het ‘n vrou met ‘n swart Polo Vivo, wat bekend is as een van die onwettige plakkers, na hulle toe gekom en gesê hulle moet die volgende keer sekuriteit saambring “want dit gaan lelik raak.” Morné sê die plakkers is onder die indruk dat die inwoners die vorms uitdeel om hulle van die area te verwyder. Hoe meer hulle aan die plakkers verduidelik dit gaan oor die dorpsontwikkeling en nie oor hulle verwydering nie, hoe minder wou hulle luister.

Volgens hom wou hulle weer Maandagmiddag tussen 16:00 en 18:00 daar staan om vorms uit te deel, maar hulle het later daarteen besluit omdat die plakkers hulle met groter skares en meer geweld gedreig het.

Die J.B. Marks munisipaliteit probeer al sedert 2018 om ‘n woonarea (township establishment) tussen die kleinhoewes goedgekeur te kry. Die munisipaliteit het nie die inwoners in die omgewing rondom die beplande ontwikkeling ingelig nie. Dis toe dat inwoners in opstand gekom het. Boere is bekommerd dat die beplande laekoste behuising wat opgerig gaan word, ‘n groot impak op hulle boerdery gaan hê.

Volgens Morné is daar tans reeds riool- en waterdrukprobleme in die Suiddorp en kan die munisipaliteit nie eers hierdie probleme uitsorteer nie. Besoedelde water gaan die boerdery in die omgewing groot skade aanrig.

Die opstand teen die ontwikkeling kom al ‘n lang pad en het reeds in 2018 begin. Almal wat destyds teen die beplande ontwikkeling in opstand gekom het, het ‘n drukgroep gevorm (Mooibank Drukgroep) om hulle daarteen te verset. Hulle glo dat die area primêr vir landboudoeleindes gebruik moet word. Die drukgroep het teen Desember 2018 vier petisies opgestel waarin daar meer as 3 000 handtekeninge verkry is wat teen die ontwikkeling gekant was. “Dié handtekeninge is amptelik aan die burgemeester oorhandig, maar hy het sedertdien nog geen terugvoering aan die inwoners gegee nie. Dit, ten spyte van sy amptelike onderneming om die inwoners binne 14 dae te antwoord,” sê Morné.

Die munisipaliteit se volgehoue planne om die dorpsontwikkeling by Mooibank goed te keur, het nou weer aan die lig gekom toe ‘n enkele kennisgewing van Taktho Environmental Strategy op ‘n paal in die omgewing gevind is.

Die kennisgewing van Taktho Environmental Strategy wat deur die munisipaliteit op ‘n paal aangebring is. Foto: Hennie Weidemann

Hennie Weidemann, ‘n groot groenteboer van Mooibank, sê hy het die kennisgewing op 15 Maart teen ‘n paal raakgesien naby die kanaal waaruit hy die water vir sy boerdery kry. “Dit is op ‘n grondpad ver weg van die hoofpaaie aangebring waar niemand dit sommer sal sien nie,” sê Hennie.

Morné sê die munisipaliteit is steeds baie geheimsinnig oor hulle planne met die dorpsontwikkeling en dit is waarom daar ‘n veldtog geloods word om mense in te lig. Mense van die Mooibank omgewing, die Suiddorp en Miederpark wat deur die ontwikkeling geraak sal word, is welkom om die vorms te voltooi.

Kontak Adélle Jerling by 072 920 0788 om ‘n vorm te kry.  Alle vorms moet teen Woensdag, 21 April by haar ingehandig word.

 

Related Articles

Back to top button