News

Twee bekwame vroue aan die stuur by Schonkenville Intermediêr

Twee bekwame vroue aan die stuur by Schonkenville Intermediêr

 

 

Twee vroue wat vir jare deel is van Schonkenville Intermediêre Skool, sal vanaf 1 April onderskeidelik die leisels as hoof en adjunkhoof van die skool neem. Layla Ismail is aangestel as hoof, terwyl Yolanda de Lange bevorder is in die pos as adjunkhoof. Die aankondiging is op 24 Maart gemaak tydens ’n spog geleentheid van die Fezile Dabi onderwysdistrikskantoor. Naas verskeie aankondigings wat by die geleentheid gemaak is oor aanstellings van hoofde, adjunkhoofde en departementele hoofde in die distrik, was daar ook dubbele vreugde die dag met die viering van die verjaardag van die distriksdirekteur, dr. V.H. Chuta.  

Layla Ismail wat vanaf 1 April aangestel is as hoof van Schonkenville Intermediêre skool.

  Vir Layla kom die aanstelling in die pos as hoof na meer as 20 jaar sedert sy destyds in Augustus 1998 as grondslagfase juffrou die eerste keer in Schonkenville Intermediêr se graad 3-klas ingestap het. Daarna is sy na die Mokwallo Public School, maar het haar lewenspad haar weer in 2005 teruggebring na Schonkenville toe sy eers vir die graad 2’s en toe die graad 3’s kom klasgee het. In 2010 word sy bevorder tot adjunkhoof. Haar bevordering tot hoof van dié skool met sy 1 042 leerders kom op ’n geskiedkundige hoogtepunt vir die skool wat vanjaar sy eerste graad 12-leerders het. Dit beteken dat die skool nou ‘n volledige primêre en sekondêre skool is met graad R tot graad 12-leerders. Iets waarop sy baie trots is. Vir Layla is haar visie as hoof om te verseker dat kwaliteit onderrig gegee word en dat kommunikasiekanale ten alle tye oop en deursigtig sal wees vir die rolspelers betrokke by die skool, sodat net die beste vir leerders gebied kan word. Adjunkhoof:  

Yolanda de Lange is die nuwe adjunkhoof van Schonkenville Intermediêre skool.

    Juffrou Yolanda de Lange het self ook ‘n jarelange verbintenis met Schonkenville Intermediêre skool en onderwys is haar passie. Sy het in 1996 as onderwyseres by Schonkenville Intermediêr begin, en is in 2012 bevorder tot departementshoof by die skool. Sy sal voortaan die pos as adjunkhoof beklee en dra, soos Layla, die belange van elke leerder en kind op die hart.  

 

Related Articles

Back to top button