NewsNews

’n Fees van gewyde Paasmusiek

’n Fees van gewyde Paasmusiek

   

Drie uiters talentvolle kunstenaars het Parysenaars Saterdagaand bekoor met die aanbieding “Gewyde Arias” wat in die kerkgebou van die NG Suid-gemeente gehu is. Tenoor Stéfan Louw was die gasheer en het saam met twee van sy huidige operastudente opgetree, wat ook reeds kunstenaars in eie reg is.

 

Werner van Coller, ‘n liriese bariton van Viljoenskroon het met sy sensitiewe vertolkings van onder meer The Trumpet shall sound (uit Die Messias van Handel) beïndruk. Dié veelsydige apteker van Viljoenskroon het reeds oor die hele Suid-Afrika en oorsee in verskeie produksies opgetree.

Corniël Calitz is nie net ‘n bas-bariton en oudstudent van Werner Nel nie, maar is ook ‘n model en akteur. Sy ryk stem het gesorg vir onder meer ‘n onvergeetlike vertolking van Beethoven se grootse komposisie, Die Himmel Rühmen. Stéfan Louw het ook weer eens bewys hoekom hy met reg as een van die topkunstenaars in Suid-Afrika beskou kan word.

Die gemak waarmee hy verskillende genres bemeester, die soepelheid van sy stem en ongelooflike asembeheer en pragtige klankkleur, veral in die hoë register, was net louter plesier om soveel talent te kon aanhoor. Verskeie genres, wat gewissel het van Comfort ye, ‘n aria uit Handel se Messias, werke van Rossini tot sy aangrypende vertolking van I’ll walk with God is stylgetrou en met fyn musikale aanvoeling uitgevoer .

Die volgende opera huiskonsert met tenoor Stefan Louw, sopraan Daniëlle Venter, bariton Werner van Coller, en bas-bariton Corniël Calitz, word gehou op Sondag 2 Mei om 12:00 by Derdelaan 12B.

Related Articles

Back to top button