NewsNews

Oudisies begin eersdaags vir dorp se jeugkoor

Oudisies begin eersdaags vir dorp se jeugkoor

   

As jy tussen die ouderdom van 9 en 17 jaar oud is en nog altyd deel van ’n jeugkoor wou wees, moet jy beslis jou dagboek nader trek. Daar word beplan om ‘n plaaslike jeugkoor op die been te bring om kinders in Parys ook die geleentheid te gee om deel te wees van ‘n jeugkoor. Die koor is vir leerders tussen die ouderdom 9 en 17 jaar en sal elke Vrydag tussen 15:00 en 18:30 by die NG-gemeente Parys-Oos oefen. Oudisies begin Vrydag 16 April. Briewe sal aan die onderskeie skole gestuur word sodat leerders afsprake kan maak om ‘n oudisie te doen. Leerders wat dan die oudisie slaag sal in die tweede skoolkwartaal met oefening begin. Die jeugkoor is die inisiatief van die begaafde sanger, pianis en koorafrigter, Franz Geldenhuys, wat op die manier ook in sy tuisdorp ‘n bydrae tot die kunste wil lewer. “Ek sien baie uit om hierdie koor op die been te kry sodat leerders nasionaal en internasionaal kan deelneem,” sê Franz wanneer hy gesels oor die voordele van koorsang vir konsentrasie en dissipline. Almal wat belangstel is welkom.

Vir meer inligting oor die jeugkoor kan jy ‘n e-pos na fzartscentre@gmail.com stuur, of skakel Franz by 076 256 5938. Daar word ook ‘n reeks huiskonserte by die NG-gemeente Parys-Oos aangebied om sodoende plaaslike talent te bevorder. As jy graag wil deel wees van hierdie projek, kan jy met Franz skakel.

Die eerste huiskonsert is reeds op 10 April om 18:00. Kaartjies kos R120 per persoon, wat ligte verversings insluit. Bring net jou eie drinkgoed en kom geniet die aand. Jy kan ook jou kaartjie vir die huiskonsert by die kerkkantoor van die NG-gemeente Parys-Oos by (056) 811 3791 bespreek.

Meer oor Franz

Franz Geldenhuys se voetspore lê in verre lande soos Hongarye, Oostenryk, Spanje en Australië, maar sy wortels lê in die Vaaldriehoek waar hy gebore is en skoolgegaan het aan die Hoërskool Transvalia in Vanderbijlpark. Hy bied die afgelope vier jaar musiek as vak by Hoërskool Articon in Vaalpark aan. Gedurende die grendelmaande het Franz ‘n ‘eenmankoor’ CD uitgebring waarop 12 van die mooiste koorwerke, ligte klassieke musiek sowel as geestelike liedere gehoor kan word. Wat dié CD so besonders maak, is dat Franz al die stempartye self sing. “Ek moes net kreatief raak om my kunstenaarsiel te voed.”

Franz het aan die voormalige Pretoria Technikon se Operaskool studeer. Hy het daarna ‘n diploma aan die International Voice Institute in San Francisco verwerf. Hy was begeleier van die destydse Suid-Transvaalse Jeugkoor, wat later die Colla Voce Jeugkoor geword het en het ook sy eie jeugkoor, Bel Canto, in die Vaaldriehoek gehad. Daarna was hy vir etlike jare begeleier van die Cantare Kinderkoor en het onder meer saam met die koor as solosanger in Oostenryk en Brittanje opgetree.

Hy sonder ‘n optrede saam met 200 jong koorlede in die St. Stevens-katedraal as ‘n onvergeetlike hoogtepunt uit.

Franz het in 2020 na Parys verhuis. Hy is orrelis by die NG-gemeente Parys-Oos.    

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button