NewsNews

Slap Chips-skietery: Pa het geweet seun gaan nie oorleef nie

Slap Chips-skietery: Pa het geweet seun gaan nie oorleef nie

Die pa van die 18-jarige Nathan Hebler, wat op 2 Februarie in die parkeerterrein van die Slap Chips wegneemete-winkel ten aanskoue van sy pa geskiet is, sê hy het geweet sy seun gaan dit nie maak nie.

Johan Hebler (53) is ook in die skietery gewond en het Dinsdag vir die eerste keer met die media oor die hartseer dag gepraat.

Johan Hebler is ook in die skietery gewond. Foto: Christiaan Cloete

“Toe Nathan geskiet is, het ek geweet hy gaan dit nie maak nie. Jy kan sien as jy jag en die dier raakskiet en hy val net. Nathan het so geval en ek het geweet.”

Wyle Nathan Hebler (18) wat in die skietvoorval in Vanderbijpark noodlottig gewond is.

 

Johan vertel dat hy ‘n week voordat hy uit die intensiewe sorgeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton ontslaan is, deur sy vrou Catherina (40) oor hul seun se dood ingelig is. Maar Johan het dit reeds geweet.

Catherina (40) het haar man Johan in die hospitaal laat weet van hul seun se dood maar hy het toe reeds geweet. Foto: Christiaan Cloete

Johan het intussen fisies goed herstel, maar sielkundig moet hy en Catherina nog ‘n lang pad stap.   Hulle gaan saam berading kry.

Johan en Catherina Hebler gaan saam vir berading gaan om hul seun se dood te verwerk nou dat Johan uit die hospitaal is. Foto: Christiaan Cloete

Daar is ook baie vrae aangesien die skieter later selfmoord gepleeg het. Al die antwoorde is saam met hom graf toe.

“Dit is asof ek nou eers besef wat gebeur het. In die hospitaal het dit nie so ‘n impak op my gehad nie. Hier by die huis voel dit vir my of Nathan nog in sy kamer moet wees,” sê Johan terwyl sy stem huilerig raak.

“Hy was nie my eie kind nie, maar ek het hom van tweejarige ouderdom af grootgemaak asof hy my eie was,” vertel hy met tranerige oë.

Vir Johan Hebler is die seer nog baie rou. Veral nou dat hy terug by die huis is. Foto: Christiaan Cloete

Johan onthou hy en Nathan was in die Slap Chips-winkel besig om oor speserye te praat, toe hulle gehoor het hoe iemand in voertuie vasjaag.

“Ons het eers gedink dit was ‘n ongeluk. Toe ons uithardloop, toe klim hy uit sy kar uit, maak die kattebak oop en haal sy 9mm pistool uit,” vertel Johan.

Die skieter het niks gesê nie, net begin skiet. Johan is eerste geskiet. Die koeël is by sy maag in en naby sy heup uit.

Die koeël is by sy maag in en by sy heup uit. Foto: Christiaan Cloete

Nathan wou sy pa help, maar Johan het gesê hy moet hardloop.

Nathan het probeer weghardloop, maar die skoot het hom neergevel. Johan het nadat hy en Nathan geskiet is, sy vrou van McDonald’s se Drive Through, loopafstand van die Slap Chips-winkel, af gebel om haar te laat weet dat hulle geskiet is.

Nathan het nog geleef toe Catherina by die toneel opdaag. Sy het by hom gekniel en die seun het vir haar gesê: “Ek is lief vir jou, Mamma.”

Daar is nog baie vrae wat onbeantwoord is na die skietery. Foto: Christiaan Cloete

Haar laaste woorde aan hom was: “Jy moet sterk wees, Boeta,” waarna hy haar geantwoord het: “Okay Mamma. Love you, Mamma.” Dit was die laaste wat sy met hom gepraat het.

Hy is om 23:30 dood. Catherina voel egter dat indien die nooddienswerkers nie gestry het oor watter ambulans haar seun na die Netcare Unie-hospitaal moet neem nie, hy moontlik vandag nog sou geleef het.

Sy is ook kwaad vir die McDonald’s-restaurant wat glo geweier het om haar man in te laat nadat hy geskiet is.

Op die vraag wat hy vir die man wat Nathan doodgeskiet het sou sê as hy kon, antwoord Johan: “Ek weet nie of ek met daai man sou kon praat nie”.

“Wat het my kind aan jou gedoen? Hoekom het jy my kind geskiet? Hy het dit nie verdien nie,” het Catherina op haar beurt gesê.

Die kissie met Nathan se as in. Die ouers het nog nie ‘n afskeidsdiens gehou nie aangesien Johan tot onlangs toe in die hospitaal was. Foto: Christiaan Cloete

Albei ouers meen dit is in hierdie stadium nie moontlik om die man wat hul kind se dood veroorsaak het te vergewe nie.

In die toekoms dalk, maar die pyn is nou nog te rou.

Catherina meen as die skieter nie sy eie lewe geneem het nie, sou hy waarskynlik nie lank na die skietery nog bly leef het nie.

“Iemand sou hom ‘uitgehaal’ het,” meen sy

Lees die oorspronklike berig hier:

Slap Chips-skietery: Pa het geweet seun gaan nie oorleef nie

Related Articles

Back to top button