News

GPF en SAPD plaas die fokus op huisbrake, veediefstal

GPF en SAPD plaas die fokus op huisbrake, veediefstal

 

Parys GPF- en SAPD-lede het die afgelope maand hande gevat met verskeie bewusmakingsprojekte en patrollies wat gehou is om te fokus op die bekamping van huisbrake en veediefstal.
Die projekte het op 3 Maart afgeskop met ‘n bewusmakingsveldtog in Parys se sakekern waar waardevolle veiligheidswenke gegee is vir die bekamping van huisbrake.
Op 9 Maart het GPF en SAPD-lede Weiveld Landbou- en Hotelskool besoek vir die Adopt a Cop en Safer Schools-projek.
Die GPF se Youth Desk-projek is ook aan die leerlinge bekendgestel waarmee Gr.8- en 9-leerlinge by die GPF kan inskakel om ook die jeug by die werksaamhede van die GPF te betrek.
Dieselfde aand het die GPF en SAPD-lede van Parys by ‘n oorgrens misdaadvoorkomingsoperasie ingeskakel waar gefokus is op veral die voorkoming van huisbrake en veediefstal.
Die optrede is verskerp met ‘n Bloulig/Witlig patrollie Vrydag, 12 Maart waaraan ook We Care en AfriForum Buurtwaglede deelgeneem het.
Die afgelope week het die GPF en SAPD weer in Parys ‘n bewusmakingsveldtog teen huisbrake geloods met inligtingsbrosjures wat versprei is, en is Hoërskool Parys besoek waar Gr.8- en 9 leerlinge meer oor die GPF se Youth Desk-inisiatief ingelig is.
Daar is onlangs in die GPF se Fezile Dabi nuusbrief melding gemaak van die uitstekende werk wat deur die GPF in Maokeng, Parys en Koppies gedoen word met gereelde skakeling tussen die gemeenskap en die polisie deur polisie-gekoördineerde gemeenskapspatrollies en die bewusmaking van gemeenskappe van misdaadpatrone in hul omgewing met deur-tot-deur inligtingsveldtogte, pamfletverspreiding, bewusmakingsveldtogte en gemeenskapsvergaderings.
Elke GPF is stasiegebonde en funksioneer binne die polisiestasie se spesifieke operasionele grense.
Lede van ’n GPF bestaan uit SAPD-lede wat deur die stasiekommissaris aangestel word, munisipale verteenwoordigers en verteenwoordigers uit die gemeenskap wat skole, kerke, sportklubs, organisasies ensovoorts insluit. Skakel in en raak betrokke by jou GPF.

 

 

Related Articles

Back to top button