News

Só kniehalter infrastruktuur en instandhouding nywerhede

Só kniehalter infrastruktuur en instandhouding nywerhede

   

Dag vir dag sien jy vragmotors met hul swaar vrag teen slakkepas kruie in Parys se nywerheidsgebied. Nywerhede wat bydra tot werksgeleenthede, nie net vir werknemers van die nywerhede nie, maar ook kontrakteurs. Maar van die paaie in die nywerheidsgebied het nou al só verval weens gebrekkige instandhouding, en wanneer kontrakteurs grawe vir herstelwerk, of om munisipale infrakstruktuur uit te brei, dat dit ‘n enorme uitdaging geword het om die paaie vir die nywerhede rybaar te hou. Waar vrywilligers en burgerlike organisasies nog probeer om die dorp se sakekern en hoofstraat netjies te hou ter wille van toerisme, sê nywerhede dat weinig deur die munisipaliteit gedoen word om die nywerheidsgebied voldoende in stand te hou vir die behoeftes van die enkele nywerhede wat hier nog is. Waar gegrawe word, word nie weer gekompakteer en geteer nie.

Weens die gebrek aan instandhouding word dit ’n groot risiko vir vragmotors wat swaar gelaai is om op hierdie paaie te ry. Vroeg vanjaar het ‘n vervoermaatskappy wat ‘n staalvrag by Osprey opgelaai het om na Sub-Sahara te vervoer, groot skade gely. Een van die vragmotor se sleepwaens se agterwiele het weggesak in ‘n gat by ‘n mangat in die Daantjie de Waal grondpad by Osprey. Ook Kakie Strachanweg wat deur hul kliënte gebruik moet word, is ‘n nagmerrie, sê Johan du Toit, hoof operasionele bestuurder vir Osprey. Johan verduidelik dat die gat waarin die vragmotorsleepwa se agterwiele beland het, ontstaan het nadat ‘n kontrakteur pype moes lê vir die riolering vir die woongebied uitbreiding net bokant Osprey. Telkens wanneer dit reën, spoel nog meer gate.

Volgens Johan spandeer Osprey jaarliks duisende om self te probeer om Daantjie de Waal-laan en Kakie Strachanweg in stand te hou, maar kom hulle nie voor om op eie koste die paaie rybaar te hou nie.

Gazette het ook in November verlede jaar berig hoe die dorp se infrastruktuurprobleme en gebrekkige instandhouding die oorsaak was dat die baie suksesvolle Vagabond Kayak fabriek weens die dorp se knaende elektrisiteitsprobleme geen ander keuse gehad het as om na George in die Wes-Kaap te verskuif nie. Die fabriek het letterlik kajakke regoor die wêreld verskeep.    

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button