News

Ma en seun saam eerstejaars

Ma en seun saam eerstejaars

“Waaat?!” Was Janu Fouché se eerste reaksie toe sy ma hom vertel dat sy vanjaar saam met hom ‘n eerstejaarstudent aan die NWU gaan wees.

Hy het verlede jaar as matriekleerling van Volkies vyf onderskeidings behaal en sien baie uit om vanjaar sy studies in rekenaar- en elektroniese ingenieurswese aan te pak.

Vir die meeste studente is die vooruitsig om universiteit toe te gaan juis om bietjie weg te kom van die huis af en bietjie meer onafhanklik te wees. Niemand sien regtig uit om in jou ma vas te loop as jy met jou pêlle rondhang of vir ‘n meisie ogies maak nie.

“Janu was baie verbaas, maar gelukkig nie geskok nie,” lag Susan,  wat vir ‘n tweede keer weer ‘n eerstejaar by die NWU is. Sy het reeds ‘n honneursgraad in verbruikerswetenskap in 2001 voltooi en sien weer kans om haar studies in maatskaplike werk aan te pak.

Haar belangstelling in maatskaplike werk kom nadat sy in 2009 ‘n nie-winsgewende organisasie, Vessels of Mercy, gestig het. Dié organisasie bestuur ‘n plek van veiligheid waar ‘n huismoeder en -vader kinders versorg wat van hul ouerhuise weggeneem is. Dit is gewoonlik kinders wat mishandel of verwaarloos word en tydelik ‘n blyplek moet kry voordat hulle in die pleegsorg-sisteem opgeneem word.

Susan en haar man Jaco, het jare gelede, toe hulle kinders klein was, saam sulke kinders in hulle eie huishouding ingeneem. “Ons het later besluit ons wil ‘n groter verskil maak deur meer kinders in te neem en het later ‘n huis gekry en huisouers aangestel om hiermee te help,” vertel Susan. Met haar verdere studies in maatskaplike werk wil sy graag verstaan hoe die maatskaplike sisteem werk sodat sy meer deure kan oopmaak om ‘n verskil in kinders se lewe te maak, sê sy.

Susan en Janu se fakulteite op kampus is gelukkig ver van mekaar, maar wat gaan hulle maak as hulle mekaar tog raakloop? “Daar is darem nie net nadele om jou ma naby jou op kampus te hê nie. Sy is lekker naby genoeg om vir my middagete te koop,” sê Janu, terwyl hy met ‘n groot glimlag skuins na sy ma loer.

 

Related Articles

Back to top button