News

Baie kom help om historiese graf skoon te maak

Baie kom help om historiese graf skoon te maak

  Meer as 70 mense, waarvan die meeste lede van die nuutgestigte FAK-Kultuurnetwerk in Potchefstroom, het die afgelope naweek Marthinus Wessel (MW) Pretorius se grafterrein skoongemaak. Jan-Danie Malan, koördineerder van FAK-Kultuurnetwerke in Noordwes en die Vrystaat, sê: “Hierdie naweek het die FAK bevestig ons kán vir ’n gemeenskaplike doel saamwerk. Ons kan ons verskille oorkom. Daar is hoop in selfdoen.” Buiten vir dié lede, het Heritage Potchefstroom, Potch clean-up, Die Voortrekkers Potchefstroom, Staatmakers en Vryheidsfront Plus (VF+) kom hand bysit. Marthinus Wessel Pretorius is in 1819 op die plaas Letskraal gebore. Hy was die oudste seun van Andries Pretorius. In 1838 trek hy saam met sy pa Natal toe en neem deel aan Bloedrivier. In 1842 is hy getroud met Aletta Smit. Uit die huwelik is agt kinders gebore, waarvan net een dogter Christina, oorleef het. Christiana en Chrissiesmeer is na haar vernoem.  

 

 

In 1857 is hy verkies tot die eerste president van die ZAR (Zuid-Afrikaanse Republiek).  In 1860 tot 1863 was hy ook president van Oranje Vrystaat (OVS). Hy was die stigter van Pretoria wat deur dominee Van der Hoff  aanvanklik Pretoria Philidelphia genoem is, maar later het net die naam Pretoria behoue gebly. . In 1871 tree MW Pretorius uit as president. In 1877 lei hy die Volkskomitee wat arbei om die anneksasie van die ZAR deur Brittanje op te hef. In 1880 word hy een van die Driemanskap wat die ZAR lei tydens die Eerste Vryheidsoorlog, en in 1892 is hy aangestel as staatshistorikus. In 1900 woon hy by Witstinkhoutboom buite Potchefstroom. Die plaas is afgebrand deur die Britse magte en hy is onder huisarres geplaas in Potchefstroom. In 1901 is hy oorlede aan longontsteking en is begrawe langs sy vrou in die ou begraafplaas. Die monument op sy graf is in 1913 het genl. Louis Botha ’n monument op sy graf onthul.  

 

   

Related Articles

Back to top button