News

Net 3 jaar kort van ’n eeu

Net 3 jaar kort van ’n eeu

 

 

Wanneer jy hom die dorp sien ry in sy bakkie, of raakloop waar hy elke dag nog sonder kierie die trappe flink oploop na die kantoor van sy seun, Saal de Jager, by Harcourts, kan jy kwalik glo dit is ’n man van ver oor die 90.
Coen de Jager, geliefde oud-apteker van Parys het vandag, Maandag 8 Maart, sy 97ste verjaardag gevier. ’n Man wat sy lewe lank glo dat jy niks verloor as jy jou hand uitsteek om die las vir ‘n ander ligter te maak nie. “Wat jy aan ‘n ander doen, kom weer terug na jou toe,” sê hy.
En dit is hierdie filosofie wat hom so geliefd gemaak het in die jare wat hy die Geen & Velleman apteek in Parys gehad het. Niemand het ooit uit die apteek gestap sonder medisyne nie – of hy kon betaal of nie. So het Coen op sy stil manier vriende in alle gemeenskappe gemaak, kinders deur die universiteit gehelp en diep in harte gekruip met sy opregte omgee vir elkeen wat hy sou raakloop.
Hy’t grootgeword in die Oos-Vrystaat op ’n plaas in Ficksburg en is dit waar hy die Sotho-taal vlot leer praat en skryf het.
Eers is hy Stellenbosch toe na skool om teologie te studeer, maar in sy derde jaar skuif hy Potchefstroom toe om hom as apteker te bekwaam.
In daardie jare is nog baie staatgemaak op die medisinale waarde van plante en het hy as apteker oor jare vele salwe gemeng waarvoor mense van heinde en verre gekom het.
Vandag nog glo hy aan die waarde van gesond eet en ’n gesonde lewensstyl. Tot voor die Corona-virus het hy daagliks gestap, en vroeër jare ook gedraf.
As vegetariër glo hy daaraan om soveel moontlik rou groente en vrugte te eet. Hy is gesond en sy sig op sy jare laat jou verstom staan.
Oom Coen is al 57 jaar in Parys en is hy ’n man wat ken van posduiwe. Hy het selfs sy Springbok-kleure in die sport verwerf.
Vir 30 jaar was hy voorsitter van die Parys-posduifklub en is steeds ’n ere-president van die Vaal Posduif Unie.
Tot op 86-jarige ouderdom het hy nog sy duiwe uitgevat op die pad, maar toe het dit tyd geword om eers halt te roep met die sport.
“My lewe is fantasties,” sê hy. “Ek is gelukkig want ek leef nie net vir myself nie.”
En as jy oom Coen ken weet jy dat hierdie nederige man werklik ’n hart het vir ander.

 

 

Related Articles

Back to top button