NewsNews

Skoner dorpe: Nuwe inisiatiewe in Ngwathe vir morskolle

Skoner dorpe: Nuwe inisiatiewe in Ngwathe vir morskolle

Smerige rommelmorsplekke in Parys se strate en parke gaan onmiddellik opgeruim word en inwoners daar naby gaan daarna versoek word om morsplekke (hot spots) sindelik te help hou. Só het Ngwathe se munisipale raad verlede Vrydag besluit. Die program word ‘Adopt-a-spot’ genoem. Dit word onmiddellik geloods, en gaan uitgebrei word na al vyf dorpe in die munisipaliteit (Parys, Vredefort, Heilbron, Edenville en Koppies), so gou as wat hulpbronne en fondse dit toelaat. Onder die morskolle (hot spots) wat getakel gaan word is onder meer dié op die hoek van Kortstraat en Father Balink, oorkant die NG Moederkerk by die h/v Dönges- en Heferstrate, langs die Anglikaanse Kerk in Buitenstraat, by sommige ingange na Parys, en plekke langs die rivier.

Ook die Mimosaspruit is gereeld vol rommel. Laasgenoemde is al by herhaling deur verskeie organisasies skoongemaak. Een van dié inisiatiewe, Parys#Selfdoen, werk weer eerskomende Saterdagoggend vanaf 08:00 by die spruit agter die Sasol-vulstasie, h/v Breë- en Van Collerstraat en nooi almal om hand by te sit. Me Phumzile Nhlapo, Ngwathe se Direkteur van Gemeenskapsdienste, sê dat spesifieke morskolle elke week skoongemaak sal word, en dat omliggende inwoners of sakefirmas dan versoek sal word om verdere stortings te help verhoed. Dit sal aangevul word met opvoeding van en voorligting in gemeenskappe. Leerders uit plaaslike skole sal ook betrek word. Die opruimingsprogram gaan inpas by die daaglikse rondtes van die munisipaliteit se vullisverwyderingsvoertuie. Me. Nhlapo het goedkeuring verkry dat haar personeellede Vrydae sover moontlik persoonlik kan help met opruimingsaksies. “Adopt-a-spot is een van ‘n sestal voorstelle en programme om ons dorpe skoner te maak, herwinning te bevorder en beheer oor disfunksionele stortingsterreine te herstel,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. “Al ses is Vrydag goedgekeur, eenparig, selfs ook DA-amendemente (gesteun deur VF+-raadslid Phillip van der Merwe, asook die ANC) om byvoorbeeld sekere programme te bespoedig en die sakegemeenskap te betrek.” Hy sê die nuwe programme moet nog verder bespreek en verfyn word.

“Dis egter verblydend dat besluit is om verdere insette vanaf sakefirmas, groepe soos die Ontwikkelingsforum en Sakeliga, en inwoners in te win.” Schoonwinkel sê as die nuwe inisiatiewe reg bestuur word kan dit herwinning van rommel aanhelp en skoner dorpe meebring. “Dit sal toerisme en belegging aanhelp en werk skep.” Hy en ander DA-raadslede het reeds Maandag die planne aan inwoners en sakelui begin verduidelik. “Ons kry goeie insette en toenemende entoesiasme.” Rdl Phillip van der Merwe (VF+) is ook hoopvol dat die inisiatiewe sinvol is, en op die regte tyd kom, “na lang Covid- inperking.” Hy meen skoner dorpe gaan onmiddellik besoekers begin trek. Hy is ook bly dat burgemeester Joey Mochela aangedui het sy steun die planne heelhartig. Gazette sal later meer oor die verskeie programme berig.    

Related Articles

Back to top button