News

Agterstallige munisipale rekenings: Inwoners kry verdere uitstel

Agterstallige munisipale rekenings: Inwoners kry verdere uitstel

 

Die amnestie vir inwoners met agterstallige munisipale rekenings is tot einde Junie vanjaar verleng. Só het Ngwathe se munisipale raad verlede Vrydag besluit.
Dit volg op ‘n pleidooi deur boere, talle waarvan eers na oestyd kontant beskikbaar kry.
Op versoek van raadslede is die amnestieperiode ook vir dorpenaars verleng.
Gedurende amnestie word een helfte van ‘n dorpsverbruiker se agterstallige diensterekening op versoek afgeskryf, mits hy die ander helfte onmiddellik betaal.
Hy moet ook dan sy maandelikse diensterekening nougeset en ten volle gedurende die daaropvolgende twaalf maande betaal. Doen hy dit nie, verval die voorwaardelike afskrywing, en die agterstallige skuld is weer ten volle verskuldig.
Iemand wat nie die helfte van sy skuld op een slag kan betaal nie, kan versoek dat die helfte van sy diensteskuld ouer as twee jaar, afgeskryf word.
Hy moet dan ooreenkom om sy totale agterstallige diensteskuld (dit wil sê die oorblywende helfte ouer as twee jaar, plus alle agterstallige diensteskuld jonger as twee jaar) in 24 gelyke maandelikse paaiemente af te betaal.
En hy moet weer eens onderneem om sy maandelikse rekening stiptelik en ten volle tydens die daaropvolgende 12 maande te betaal.
Solank die afbetalingsooreenkoms nagekom word, is geen rente op die agterstallige bedrag betaalbaar nie. Sou die verbruiker egter enige voorwaarde verbreek, word die afskrywings gekanselleer en hy skuld weer die volle bedrag, met rente ook.
“Vanaf 1 Julie gaan Ngwathe onmiddellik optree teen agterstalliges,” sê DA-raadslid Arnold Schoonwinkel. Hy sê optrede is onvermydelik, selfs vir inwoners wat sukkel, want die munisipaliteit se geldsake bly beroerd.

 

 

Related Articles

Back to top button