NewsNews

…want ‘three is not a crowd’, dis ‘magic’

...want ‘three is not a crowd’, dis ‘magic’

   

Die Engelse gesegde lui: “Two is company, three is a crowd,” maar skrywer Zelda Bezuidenhout van Parys stem nie saam nie. Drie is eenvoudig net “magic”. Dink aan die drie primêre kleure, die peperduur Ferrero Rocher lekkerte in pakkies van 3, die 3 Musketiers, die Power Puff girls, en ’n feëverhaal is g’n feëverhaal sonder 3 wense nie.

Soveel wonderlike dinge gebeur in drie’s, en is “Die 3 van ons”, uit Zelda se skrywerspen, kraakvars op die rak, geen uitsondering nie. Dit gaan oor 12 wees en sin maak in ’n baie “crazy” wêreld. Dit is ‘n storie oor grootword, familie, maar bowenal ‘n storie oor vriendskap.

Zelda ken en verstaan die wêreld van ‘n kind met vyf jeugboeke wat reeds uit haar pen verskyn het. “Die 3 van ons”, is egter gemik op 11-13-jariges – haar eerste werk gefokus op die middelgroep. Daardie tyd van nêrens hoort – nie meer kind nie, so amper tiener en té nat agter die ore vir grootmens geselskap. Met so baie Afrikaanse boeke in die mark vir jonger kinders onder 10, en tieners, is boeke vir die sogenaamde middelgroep dun gesaai. Daarom het Pan McMillan Uitgewers Zelda genader met die versoek – skryf vir ons voor-tieners.

Dié keer was dit vir dié gesoute skrywer “’n ander dam se gans wat sy moes naderlok”. ’n Vars nuwe uitdaging met heelwat meer vryheid en minder voorskriftelik as die eise van ’n tiener-mark. “Tieners kan ‘moeilike customers’ wees,” skerts Zelda – jy moenie té stokkerig klink nie, en hou verby die idee van skryf om “cool” te wees. So het die hoofkarakter gevorm uit Zelda se eie kleintyd raaksien van die snaakse feite – die ontdek, daaroor dink en wonder vrae.

Met joernalis oupa Ignatius se ou Remington tikmasjien, word Jana Louw, ’n ‘joernalis’ in eie reg aan die einde van haar Gr. 6 jaar. Sy begin haar eie feite joernaal – Jana-feite, opgeteken uit haar beleef van familie, verlies met die dood van haar geliefde tannie Kitta – maar bowenal vriendskap want “three is not a crowd.” Drie is “magic”.    

 

“Die 3 van ons” sal binnekort op die rakke wees by uitgesoekte boekwinkels en kan Parysenaars dit koop by Lekker Bistro, Meyers Ranch, Liewer Koffi, PNA en La Vie & Rose.

Waarna kan jy nog uitsien uit die pen van Zelda Bezuidenhout:

* Na die sukses van haar eerste roman vir volwassenes, “Die dekonstruksie van Reta Blom”, verskyn ’n mediese spanningsroman, geskryf deur Zelda, en uitgegee deur Kwêla uitgewers in Augustus.

* Zelda se eerste jeugroman, “As mens geluk kon proe” word in Engels vertaal onder die titel, “Confessions of a ginger pudding”, en word in September uitgegee deur Penguin Random House.

* Die bekende Sally Partridge jeugroman “Sharp Edges” is in opdrag van Lapa uitgewers deur Zelda en haar Koppelkat-medeskrywer, Lunell Kruger, vertaal. Die Afrikaanse titel is “Skerwe”.    

Related Articles

Back to top button