News

Transformator herstel, maar…

Transformator herstel, maar...

   

 

Eskom se tweede transformator in sy substasie in Parys is uiteindelik herstel ná Donderdag se kraglose dag vir Parysenaars ter wille van dié herstelwerk, maar dit beteken nie noodwendig die einde van Parys se kragstryd nie. Hoewel die dorp nou ’n geïnstalleerde vermoë van 40mVA by die Eskom-substasie het, is die maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (Notifyable Maxi-mum Demand) vir die Ngwathe-munisipaliteit steeds nie aangepas nie, en is daar net 21mVA se elektrisiteit goedgekeur. Dit terwyl die dorp se winter aanvraag hoër is as 24mVA.

Dit beteken dat as Parysenaars nie gedurende veral die wintermaande gaan spaar op kragverbruik deur nie-noodsaaklike elektriese toerusting, warmwatertoestelle en pompe deur die dag af te skakel nie, daar waarskynlik weer ‘n probleem gedurende die wintermaande mag ontstaan.

Hoewel die herstel van die tweede transformator las op die reeds brose elektrisiteitsnetwerk in Parys sal help verlig, het die kragreus min simpatie met munisipaliteite soos Ngwathe wat agterstallige skuld het. Eskom het in November verlede jaar na ’n hofstryd met die Vaal River Development Association, onder eed bevestig dat hy besig is met herstelwerk aan sy tweede transformator in die Eskom-substasie in Parys nadat die kragreus eers volstrek geweier het tot Ngwathe sy skuld aan Eskom betaal.

Die weiering het veroorsaak dat Eskom sedert Junie 2020 sy enkele werkende transformator “beskerm” het teen oorlading deur eenvoudig die dorp se kragtoevoer te sny, sou Ngwathe die 20MVA wat die werkende transformator voorsien, oorskry het. Dit het die munisipaliteit genoodsaak om self kragbeheer toe te pas deur gedwonge rotasie beurtkrag. Ngwathe se NMD-kontrak is tien jaar laas aangepas.  

Die Vaal River Development Association het in Augustus 2020 namens die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie, en die Lekwa Belastingsbetalersvereniging, hulle na die hooggeregshof gewend met dringende aansoeke om ‘n stokkie te steek voor Eskom se eensydige afdwinging van munisipale beurtkrag.

Dit het inwoners soms tot ses en meer ure sonder krag gelaat Die effek van die daaglikse beurtkrag is boonop vererger met nasionale beurtkrag wat toe bykomend tot daaglikse munisipale beurtkrag toegepas is. Dit het ‘n vernietigende uitwerking op sakeondernemings, die plaaslike hospitaal, tehuise vir bejaardes, maar ook die gewone verbruiker gehad. Eskom het na die vroeëre interim hofbevel van regter Anthony Millar wat Eskom verbied het om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas, en die kragreus aangesê is om binne vyf dae die transformator te herstel, aansoek om verlof tot appél teen die hofbevel, ingedien.

Die saak is daarna na die appélhof verwys vir beslissing, maar kan dit nog ‘n baie lang en duur hofstryd vir die betrokke partye wees.      

Related Articles

Back to top button