News

Ma se hartseer afskeid van seun en kommer oor man in hospitaal

Ma se hartseer afskeid van seun en kommer oor man in hospitaal

VANDERBIJLPARK. – Hartverskeurende tonele het die afgelope Saterdagmiddag afgespeel tydens die kranslegging en huldeblyk aan die 18-jarige Nathan Hebler wat verlede Dinsdagaand tydens ‘n skietery buite die Slap Chips wegneemete winkel noodlottig gewond is.

Die rou snikke van Catherina Hebler wat deur haar lyf geruk het, het aan mens se hart gegryp en die diep seer beklemtoon waarmee dié familie nou worstel. Die familie en lede van die Vrystaat Varswater Oewerhengel Vereniging (Nathan was ‘n kranige hengelaar) het om 13:00 buite die Slap Chips-wegneemete winkel die eerste kransleggingseremonie van die dag gehou.

Catherina het tussen die trane deur afskeid geneem van haar seun met die woorde: “Ons is lief vir jou Nathan. Mamma weet jy is veilig by Liewe Jesus, maar kom sê hallo vir mamma as jy kan, so nou en dan. Kom gee my nog net een keer ‘n stywe drukkie. Ek is lief vir jou my kind, met alles in my. “Jy was die beste seun waarvoor ‘n ma kon vra. Die hardwerkendste kind, jy was net die beste. Lief vir jou my kind.” Sy en ander familielede het daarna spierwit duiwe losgelaat.

Pa Johan (52)  wat in ‘n mediese koma was, is die afgelope week stadig wakker begin maak. Hy het egter ‘n terugslag beleef. Die wond het infeksie en hy moes gisteraand weer in teater toe om die wond skoon te maak. Hy is weer onder sedasie gesit en moet weer binne 48 uur terug gaan teater toe. “Die dokter sê die terugslag is onverwags , ons bid so hard dat hy net moet herstel en kan huistoe kom. My tannie is in n toestand oor die onsekerheid,” het Bianca Venter, woordvoerder vir die familie, vanoggend aan Vaalweekblad gesê.

Johan weet nog nie dat Nathan oorlede is nie. Nathan is intussen reeds veras en daar sal later wanneer Johan uit die hospitaal is, ‘n roudiens gehou word.

Die aand van die skietery

Johan en Nathan is verlede Dinsdagaand omstreeks 19:00 raakgeskiet toe Tommy Phalatsi (49), ‘n inwoner van CW6 in Vanderbijlpark, buite die Slap Chips-wegneemete-winkel opgedaag het. Phalatsi het met sy BMW X5 by die winkelsentrum se parkeerterrein ingejaag en skade aan verskeie voertuie aangerig. In die proses is Lawrence Townsend (59), een van die bestuurders van Slap Chips, ook ernstig beseer toe hy tussen ‘n bakkie wat gestamp is en die sypaadjie vasgekeer was. Albei Townsend se bene is gebreek en hy het veelvuldige inwendige beserings opgedoen.

Phalatsi het toe uit sy X5 geklim en op mense begin skiet. Nathan is twee keer getref (in die skouer en in die bors) en Johan is in die maag getref. Daarna het het Phalatsi in sy kar geklim en sowat 1,5km in Duckhamstraat, CW6 gery waar hy twee mans langs die pad sien loop het. Willem Kriel (47), ‘n karwag en ‘n vriend was op pad huis toe toe Phalatsi langs hulle stop en op hulle losbrand. Willem is in die kop getref en is Woensdagoggend in die hospitaal oorlede. Phalatsi het daarna na die Global-vulstasie in Sharpeville gery waar hy homself om die lewe gebring het. Gerugte dat hy sy eie gesin voor die tyd uitgewis het is onwaar.

Die wit duiwe wat Saterdag deur Nathan se familie in ‘n huldblyk losgelaat is. Foto’s: Elsje Vermeulen
Juandré (15), wyle Nathan Hebler (18) se jonger broer, probeer tussen al sy eie hartseer om ma Chaterina te vertroos.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button