NewsNews

Aanvalle op vragmotorbestuurders skokkend , tragies en onaanvaarbaar

"Wat met hom gebeur het, is tragies en absoluut onaanvaarbaar. Dit maak ons ​​siek"

 

MEYERTON. – Twee swaarvoertuie is Donderdagaand, 28 Januarie 2021, omstreeks 23:00 weer totaal verwoes en nog drie beskadig toe aanvallers die R59-snelweg naby die Kliprivierafrit met brandende takke versper en die voertuie met klippe en petrolbomme bestook het. FleetWatch, ‘n tydskrif vir die vervoerbedryf, sê twee van die vragmotors het heeltemal uitgebrand. ‘n Derde is ook aan die brand gesteek maar die vragmotorbestuurder kon daarin slaag om die vlamme met sy brandblusser te blus. Twee ander vragmotors se kajuitvensters is uitgeslaan en ‘n petrolbom is in een van die kajuite ingegooi, maar het gelukkig nie ontplof nie. Van die voertuigdrywers kon daarin slaag om weg te hardloop en in die veld te gaan skuil, maar die aanvallers het een van die bestuurders wat nie gou genoeg uit sy voertuig kon kom nie, uit sy kajuit geruk en wreed aangerand. Die 50-jarige man is later in ‘n erg beseerde toestand deur nooddienspersoneel op die toneel aangetref en per ambulans na die Thelle Mogoerane-streekshospitaal in Vosloorus vervoer. Volgens FleetWatch se redakteur, Patrick O’Leary, het ‘n senior verteenwoordiger van die beseerde se werkgewer oor die naweek persoonlik na die hospitaal gegaan om te reël dat hy na ‘n privaathospitaal oorgeplaas word. Volgens O’Leary is die beseerde bestuurder ‘n Suid-Afrikaanse burger, wat bevestig dat die voortdurende aanvalle op vragmotors nie net met die buitelandse bestuurderskwessies verband hou nie. Geen van die voertuie se vragte is geplunder nie. Die voertuie is net voor die voet verwoes, wat daarop dui dat daar ‘n sinistere agenda agter die aanvalle is, meen hy. “Die beseerde is ‘n gerespekteerde vragmotorbestuurder en broodwinner vir sy vrou en kinders. Hy was besig om sy geld op ‘n eerlike manier te verdien en terselfdertyd die ekonomie se wiele aan die rol te hou. Nou lê hy in ‘n ernstige toestand in die hospitaal. Wat met hom gebeur het, is tragies en absoluut onaanvaarbaar. Dit maak ons ​​siek,” sê O’Leary. Die bestuurders van die ander voertuie is almal ongedeerd, maar erg getraumatiseer, berig FleetWatch. * In November verlede jaar is 26 swaarvoertuie binne 10 dae op dieselfde manier op Suid-Afrikaanse paaie verwoes – die meeste daarvan op die R59-snelweg in en om die Vaaldriehoek. Die polisie ondersoek die voorvalle.Een van die vyf swaarvoertuie wat Donderdagaand op die R59 aangeval is.

Lede van die Ekhuruleni-brandweer het hulle na die toneel gehaas, maar twee van die voertuie het heeltemal uitgebrand voordat die vlamme geblus kon word. Foto’s: FleetWatch
Lede van die Ekhuruleni-brandweer het hulle na die toneel gehaas, maar twee van die voertuie het heeltemal uitgebrand voordat die vlamme geblus kon word. Foto’s: FleetWatch

Die petrolbom wat in een van die vragmotors se kajuit ingegooi is maar gelukkig nie ontbrand het nie.

 

Vragmotors brand, drywer erg aangerand op R59

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button