NewsNews

Stad verslae en hartseer oor apteker se dood

Stad verslae en hartseer oor apteker se dood

 

Potchefstromers is steeds verslae en hartseer oor die dood van ‘n bekende apteker, George Dannhauser (37), wie se lyk Donderdag, 28 Januarie, uit die water van die Boskopdam gehaal is. George se ma, Eurika Dannhauser, sê sy voel fisies siek na die traumatiese gebeurtenis wat sy, haar man Org en die res van die familie en vriende vir twee dae langs die dam moes deurmaak. Hulle het Woensdag nadat George vermis geraak het, begin om na hom te soek tot 00:00 die nag en het weer vroegoggend die volgende dag by Tanglewood Nature Estate opgedaag om die soektog voort te sit. ‘n Personeellid van Tanglewood vertel hoe hulle Eurika naby middernag op die oewer na haar seun hoor roep het. Eurika gesels oor die voorval en sê hartseer: “Dis nou verby. Hy is dood, in die fleur van sy lewe met kinders wat hy nog moes grootmaak.” Org Dannhauser vertel dat George gereeld (sowat twee tot vyf dae per week) saam met ‘n goeie vriend, Bert Hattingh, ‘n bekende fisioterapeut van Potchefstroom, by die seilbootklub van Boskopdam gaan seil en roei het. “Hulle is juis vroeg saam Woensdagoggend uit Boskopdam toe en wou eers seil, maar daar was nie ‘n luggie wat getrek het nie en die dam was spieëlglad,” vertel Eurika soos Bert dit aan haar oorvertel het. Dit was eers later die oggend dat ‘n sterk wind begin waai het.
 
 
Image Alt
 
 
 
Eurika sê Bert roei baie sterker as George en hy het vooruit geroei.  Met sy terugkeer was dit omstreeks 09:00 toe hy naby Tanglewood Nature Estate George se omgekeerde kajak gesien het. Hy het dadelik die polisie in kennis gestel. ‘n Personeellid van Tanglewood het ook die omgekeerde kajak gesien en gewonder wat het van die roeier geword wat ‘n ruk gelede verbygeroei het. Hulle het dadelik die dam se komitee ingelig wat verder hieroor navraag begin doen het. Lede van die seilbootklub het dadelik drie bote beskikbaar gestel en met die soektog gehelp. Nie lank daarna nie het die polisie, polisiehelikopter en mense met bote uit die omgewing by hulle aangesluit. “AfriForum sal ek nooit vergeet nie.
 
Hulle lede het ons van vroeg af bygestaan met warm drinkgoed, kos, warm baadjies, het ons selfone gelaai en oproepe help beantwoord. Hulle het ons op hoogte gehou met nuus. Hulle was die heeltyd op die agtergrond en het tot laat in die nag hommeltuie gevlieg. Daar is nie nog sulke mense soos AfriForum nie,” beklemtoon Eurika.Org raak bewoë toe hy vertel het hoe twee jong skraal manne met oorbelle en tatoeëermerke met hulle roeibote net opgedaag het en gevra het of hulle kan help soek. “Hulle het die hele dag op die dam geroei.”
 
Rob Hamman, die mede-eienaar van Tanglewood, ken Boskopdam baie goed en het voorgestel dat die soektog uitbrei deur baars vissermanne op te roep om met die soektog te help. “Ek het geweet dis net die baars vissermanne se bote wat tussen die lang gras kan beweeg,” sê Hamman, wat op daardie stadium oorsee was. Dit was toe uiteindelik twee baars vissermanne, Wiehahn Steyn en Pieter Potgieter van Vanderbijlpark wat George se liggaam gevind het. Die jongman, Wiehahn Steyn het die liggaam van George gesien toe die watergras in die stroom van die bootjie meegegee het. Hulle het dadelik die polisieduikers laat weet wat die liggaam uitgehaal het.
 
Die Dannhauser ouers onthou hul seun as iemand wat stil was. Hy was baie sportief en het eerste span rugby en krieket op skool en vir sy koshuis aan die NWU gespeel. Hy was onderhoofleier by Laerskool Mooirivier en Hoërskool Gimnasium. Hy was ‘n avonturier en ‘n baie nuuskierige mens wat hom laat dink en wonder het oor die wetenskap. Hy het gedurig interessante plante in sy ouers se tuin geplant. Hy was baie lief vir sy dogters en sy vriende onthou hom vir sy lojaliteit en sy goeie sin vir humor. “Met die nadoodse ondersoek is  vasgestel dat George weens verdrinking dood is. Hy het nie ‘n beroerte of hartaanval gehad waaroor ons gewonder het nie,” sê Org. Dit bly vir hom ‘n raaisel waarom dit in die Boskopdam kon gebeur het. “Hy en Bert het met kajakke ongeveer 9km in die Vaalrivier van Schoemansdrift se brug af geroei toe die Vaalrivier in vloed was en hy het niks oorgekom nie.” George laat sy vrou, Carita en twee dogters Lhea (9) en Mariza (6) asook sy ma, Eurika, pa, Org, suster en swaer, Laurika en Justin Oelofsen agter.
 

 

Related Articles

Back to top button