NewsNews

‘Bid asseblief steeds vir Johan’, vra familie na skietvoorval

‘Bid asb. steeds vir Johan’ vra familie na skietvoorval

VANDERBIJLPARK. – Die Hebler-familie van Vanderbijlpark vra dat inwoners asseblief vir Johan  Hebler moet bid. Hy moes Vrydagogged weer geopereer word en sy lewe is steeds in gevaar.

Johan en sy seun Nathan was Dinsdagaand omstreeks 19:00 raakgeskiet toe ‘n man buite die Slap Chips-winkel in Vanderbijlpark blindelings op mense begin skiet het. Nathan is twee keer getref en het later die aand in die hospitaal gesterf.

Johan is in die maag getref en Nathan is in die skouer en bors getref. Johan het sy vrou Catheriena kort na die voorval gebel en gesê hulle is geskiet en dat sy dadelik soontoe moet kom. Catheriena het op die toneel met haar seun gepraat. Haar laaste woorde aan hom was “jy moet sterk wees boeta” waarna hy haar geantwoord het “Okay mamma, love you mamma”. Dit was sy laaste woorde voordat hy per ambulans na die Emfuleni-hospitaal in Vanderbijlpark geneem is. Pa en seun is later na die Unie-hospitaal in Alberton oorgeplaas, waar dokters gesukkel het om Nathan stabiel te kry. Sy longe het egter platgeval en daar was skade aan sy hart. Nathan is omstreeks  23:30 dieselfde aand oorlede.

Johan is steeds in die Unie-hospitaal in Alberton. Hy is ‘n mediese koma en weet nog nie dat sy geliefde oudste seun oorlede is nie. Die egpaar het nog ‘n seun Jeandré (15). Hy het by familie gekuier en was nie saam tydens die skietvoorval nie. “My oom-hulle is nie eers so mal oor wegneemetes nie. Dit was ‘n uitsondering op die reël dat hulle juis daardie aand lus was vir slap chips,” sê Bianca Venter, woordvoerder vir die familie.

Nathan sou hierdie jaar sy matriekjaar aan die Destinata skool voltooi het. “Hy was so opgevonde oor die toekoms en sy droom was om sodra hy klaar was met skool, op ‘n plaas te gaan werk,” vertel ‘n hartseer Bianca. Sy sê hulle is ‘n hegte familie wat baie tyd saam spandeer het. “Dit voel of realiteit nog nie ingeskop het nie. Ons gaan Nathan verskriklik mis”.

Inwoners wil laaste eer betoon

Nathan was ook ‘n kranige hengelaar. Die Vrystaat Varswater Oewerhengel Vereniging gaan Saterdag 6 Februarie  by die Slap Chips-winkel om 13:00 bymekaar kom om kerse en blomme neer te lê ter nagedagtenis aan Nathan. Ander inwoners wat ook graag hul laaste eer wil betoon sal Saterdag van 11:00 af die geleentheid kry om blomme te gaan neerlê. Die eienaars van Slap Chips gaan ‘n parkering oop hou vir die doel. Bianca het gesê die familie waardeer die mooi gebaar. “Catheriena het gesê dat sy nog nie gereed is om terug te gaan na die toneel nie, maar ek en ander familielede sal ook oor die naweek blomme gaan neerlê by die winkel,” het Bianca gesê.

Daar is nog nie begrafnisreëlings getref nie. Die familie wil dit so probeer reël dat Johan ook die begrafnis sal kan bywoon.

  • Die man wat op die Heblers geskiet het, het ook ‘n motorwag, Willem Kriel, geskiet wat op pad was huistoe. Kriel is noodlottig gewond. 
  • Bianca vra dat Willem se familie haar kontak deur whatsapp by 082 388 7575. Hul familie wil graag bystand aan Willem se familie verleen.
  • Die man wat verantwoordelik was vir die skietvoorvalle het later selfmoord gepleeg by ‘n vulstasie in Sebokeng.
  • Die Hebler-gesin van Vanderbijlpark in gelukkiger dae voordat hul oudste seun, Nathan, Dinsdagaand tydens ‘n skietvoorval noodlottig gewond is.
    Wyle Nathan Hebler wat vanjaar sy matriekjaar sou voltooi het.

    HIer is die skakel na die oorspronklike berig
    https://vaalweekblad.com/85709/bid-asb-steeds-vir-johan-vra-familie-na-skietvoorval/

Related Articles

Back to top button