News

Elize Prinsloo: Sy was merkwaardig en soveel meer as net ’n afrigter

Elize Prinsloo: Sy was merkwaardig en soveel meer as net ’n afrigter

 

Parys treur oor een van sy grootste muurballegendes, Elize Prinsloo, wat op 30 Januarie tragies in n kop-aan-botsing op die N1 gesterf het. Sy en haar man, Gert, was van Vanderbijlpark na Parys onderweg toe n motorbestuurder in die aankomende verkeer beheer oor sy voertuig verloor en oor die middelman beweeg het. 

Die onderstaande huldeblyk aan Elize is deur Parys-muurbalklub se voorsitter, Robert Thompson geskryf:

Gert en Elize Prinsloo het hulle destyds as pasgetroudes in Parys kom vestig. Elize het dadelik by die gemeenskap ingeskakel en so het sy in ongeveer 1983 begin om sosiaal muurbal saam met ‘n handjie vol vriendinne te speel.

Elize het vinnig ‘n besondere liefde en talent vir die sport ontwikkel en haar toewyding en determinasie het vrugte afgewerp toe sy een van die beste damesspelers in die Vaaldriehoek geword het.

Elize het in die tagtigerjare die Vaaldriehoek by nasionale toernooie, waaronder die Suid-Afrikaanse kampioenskappe, verteenwoordig. In die vroeë 90’s het haar twee seuns, Jurg en Paul, belangstelling in die sport getoon en het Elize die leemte vir profes- sionele afrigting by Parys-muurbalklub aangespreek, en haar reis as legendariese afrigter hier begin.

Elize het met haar besondere afrigtingstegniek en toegewydheid, uitgebreide belangstelling in die sport begin kweek en stadig maar seker het sy eiehandig Parys-muurbalklub se juniors nasionaal bekend gemaak. Van Suid-Afrika se topspelers is deur Elize se hande. Sy het verseker hier ‘n grondslag gelê vir spelers wat later groot hoogtes bereik het op universiteitsvlak of selfs by omliggende skole.

Vanaf 2000 tot nou het Parys gemiddeld 15 tot 25 spelers per jaar opgelewer wat provinsiale kleure verwerf het, en by die jaarlikse interprovinsiale toernooie (SA’s) hul staal gewys het. Met Elize se hand op Parys se juniors kon geen ander dorp of stad in die land, kers vashou by Parys se junior muurbalspelers nie. Nasionaal was Parys bekend vir sy talentvolle juniors en dit was sinoniem met die naam Elize Prinsloo. Wanneer Parys se juniors jaarliks met die louere weggestap het by landwye toernooie, is daar altyd gesê: “Ons sien weer vir Elize Prinsloo hier!”

Elize was onwrikbaar betrokke by haar spelers. Al kon sy nie altyd by al die toernooie wees nie, was sy bal-vir-bal en punt-vir-punt saam met haar spelers op die baan. Sy het altyd gebel om te hoor hoe dit met haar spelers by toernooie gaan.

Sy het werklik belang gestel in haar studente en het ook gespog met hul prestasies af van die muurbalbaan (kultuur, akademies, ensovoorts). Daar is gereeld foto’s van atletiek, rugby, netbal en ook kultuur-prestasies op die klub se kennisgewingbord geplaas. Sy het ook gesorg dat Parys Hoërskool se dogtersmuurbalspan ses keer kon kwalifiseer om aan die gesogte SA Top Schools toernooi deel te neem. Om te kwalifiseer vir die toernooi moet jou skool se span die beste in die provinsie wees. Elize het die ekstra myl geloop om te sorg dat die meisies voorberei en fiks is vir die toernooi.

Dit is ook te danke aan hierdie voorbereiding dat Parys die toernooi drie keer kon wen en as SA se top muurbalskool gekroon te kon word. Elize het in haar afrigtersloopbaan ook altesaam 15 spelers opgelewer wat Suid-Afrika verteenwoordig het tydens internasionale toernooie op die muurbalbaan. Dit is weer eens ‘n merkwaardige prestasie om te dink ‘n plattelandse klub kon dit regkry.

Parys se muurbalspelers het baie by hierdie merkwaardige vrou geleer. Geleer van pligsgetrouheid, passie, harde werk, vertroue in God – dan sal jy sukses behaal. Haar spore lê diep by Parys-muurbalklub! Haar nalatenskap sal voortleef deur generasies. Elke “boast”, elke langbal, elke uitklophou, elke punt-vir-punt is vir haar.  

Related Articles

Back to top button